Pedro Kruger op Wellington
2005-07-21
’n NUWE eenmanvertoning met Pedro Kruger, “Oorlog!”, is op Saterdag 20 Augustus om 19:00 vir 20:00 te sien by Hugenote Laerskool op Wellington.
Eers Blougat (1998), toe Lyf (2000), gevolg deur Pello (2003) en in Maart 2005 het Pedro Kruger se nuwe eenmanvertoning, Oorlog!, by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees geopen met staande toejuiging.
Hierdie splinternuwe musiekteaterstuk is weer eens die produk van die gedugte span van Hennie van Greunen (teks/liriek) en Pedro Kruger (musiek). Dit toets Pedro se talent as storieverteller, akteur, pianis en sanger tot die uiterste.
Dis Desember 1983. Seisoentyd in Mosselbaai. Die tyd van ’n Buffalo Soldier in ’n Mad World.
Die verteller van Blougat is terug en dié Desember besluit hy om sy stamboom te klim, tot heel bo, en om uit te vind waaraan Tannie Kateriena dood is net na die oorlog, wat ouma bedoel het met haar laaste woorde (Kussing, o kussing...), hoekom die hele familie elke Desember sonder hulle mans en vrouens in die ou army tent agter in Antie Sadie se yard kamp en hoekom hy al kind in die familie is.
Hy hoor die aardbewings en sien die oorloë in die stiltes tussen sy familie. En hy konfronteer dit met die onverskrokke krag wat mens net in die hart van ’n 18-jarige aantref.
Pedro se gewildheid as spankaptein op kykNet/M-Net se Liriekeraai word aangevul deur sy reputasie as een van die gunstelingkunstenaars op al wat ’n kunstefees is.
Hennie van Greunen se CV lees soos ’n lys van die grootste feestreffers van die afgelope jaar, insluitende verlede jaar se K en Die Hangkas Haas.
Benewens Lyf, Blougat en Pello, sluit Pedro en Hennie se kreatiewe vennootskap oor die afgelope paar jaar produksies in soos Die Laaste Aand, Junkiedrome en 2004 se groot treffer, Op die Vrou Af. Marion Holm se Sussie karakter is besig om die grootste fenomeen in Afrikaanse komedie te word en haar reputasie as uitstekende regisseur word verder bewys in Oorlog!
Kaartjies is R60. Besprekings by Write Shop, Wellington.
More
News
|