Paarl krieketklub val vas
2008-10-23
’n KAPTEINSVERTONING deur Ultalyn Ernstzen van Paarl Krieketklub kon nie Saterdag op Vredenburg verhoed dat sy span hul rieme styfloop teen die span van Vredenburg/Saldanha nie. Die tuisspan het eerste gekolf en was vroeg in hul kolfbeurt in die moeilikheid met die telling op 21/4 in die sewende boulbeurt. Vredenburg/Saldanha het uiteindelik 132/4 behaal. Ernstzen (3/19) se goeie boulskof is deur die ander boulers ongedaan gemaak. Paarl was ook vroeg in die moeilikheid met hul telling op 28/3 na sewe boulbeurte. Ernstzen (44, 2x4) en Clint Philander (30, 3x4) het egter 66 lopies in 9 boulbeurte aangeteken voordat Philander, en toe Ernstzen, hul paaltjies in agtereenvolgende boulbeurte verloor het. Met drie boulbeurte oor moes Paarl 36 lopies aanteken vir ’n oorwinning, maar die oorblywende kolwers kon slegs 29 lopies behaal wat dus aan die tuisspan ’n oorwinning van 6 lopies besorg het. Paarl II (99/7) het met 4 paaltjies op Vredenburg verloor teen Vredenburg/Saldanha II (101/6). ’n Onoorwonne 55 lopies (4x4 en 2x6) deur Graham Adams was nie genoeg om Paarl tot ’n oorwinning te lei nie. Paarl III (71/9) het vir Wellington III (70/6) met 1 paaltjie, op die Parys-velde, geklop. Was dit nie vir die besoekers se E Ganz (43*, 3x4 en 2x6) nie, sou hulle nie meer as 50 lopies aangeteken het nie. Wiaan Vermeulen (2/12) en Sidney Sampson (2/17) het die besoekende kolwers geterroriseer. Die besoekers se boulers, H Agenbach (3/15) en S Laubscher (3/12) het byna die wedstryd vir hul span gewen. Paarl IV (131/10) het vir Coronations III (107/8) met 24 lopies, op die Parys-velde, geklop. Saterdag speel Paarl I en II (Parys-velde) teen Young Peoples I en II onderskeidelik om 14:30 en 10:30. Paarl III speel teen Northdene II, op Kraaifontein, om 10:30.
More
News
|