Peoples vernietig Malmesbury
2008-10-23
DIE krieketspanne van Young Peoples het Saterdag groot sukses behaal met al drie sy spanne wat koning gekraai het oor hul opponente. Peoples se eerste span het ’n puik oorwinning oor Malmesbury, met 9 paaltjies, behaal op Daljosafat. Malmesbury kon in sy aanslag slegs 63 lopies behaal danksy vernietigende boulwerk deur PJ de Villiers (4/17 in 3 boulbeurte). Hy was goed bygestaan deur sy kaptein, Edwin Jacobs (3/8 in 3bb), asook met skitterende veldwerk deur die tuisspan. Peoples het die wenlopies reeds in die negende boulbeurt behaal, met Lindsey Davy (20* 3x4), Hershelle Barron (13, 4x3) en Imran Nackerdien (12, 3x4) wat die hoogste tellings behaal het. Peoples se tweede span het ook klaargespeel met hul eweknieë, Malmesbury II, deur ook met 9 paaltjies koning te kraai. Die besoekers kon slegs 48/9 behaal in 20bb na goeie veldwerk en boulwerk deur die Tiere. Keenan Pick (3/5 in 4bb), Ryan Davids (1/8 in 4bb) en Lloyd Grey (1/4 in 3bb) het goed geboul. Peoples II het die wenlopies na slegs 3 boulbeurte behaal nadat Melvyn Jackson (38, 4x4 en 3x6) van slegs 14 balle amok gemaak het onder die boulers. Die derde span was in ’n hewige stryd gewikkel teen Paarl-Oos III op die B-veld. Paarl-Oos het in sy kolfbeurt ’n stewige 149/4 in 20bb behaal danksy skitterende beurte deur Wayne Jantjies (81, 12x4 en 2x6), Lee-roy Goliath (33, 4x5) en Jacques Hendricks (26, 3x4). Vir Peoples het Werner Cupido (2/27 in 4bb) goed geboul. Peoples se kolfbeurt het rampspoedig begin en gesteier op 16/3, maar ’n goeie vennootskap tussen Randall Arendse (14, 1x4) en Ryan Carolissen (76*, 5x4 en 3x6) het vir Peoples terug in die prentjie geplaas met 81/3. Sam Titus (31,2x4 en 3x6) het later vir Carolissen bygestaan en gesamentlik het dié twee spelers die wedstryd vir hul span beklink met nog 8 balle om te spaar. Saterdag is dit weer derby-tyd wanneer Peoples I en II kragte meet, in ’n Pro 20 wedstryd, teen Paarl krieketklub op die Parys-velde. Albei klubs behoort op volle sterkte te wees en die skare kan weereens ’n riller-stryd verwag. Peoples se derdes het ’n loslootjie.
More
News
|