Dwelms: ons moet wakker skrik
2008-10-23
ONDANKS pogings om dwelmmisbruik te bekamp, is dié probleem steeds groot in die Paarlstreek, sê ’n woordvoerder van Sanra, en meen die gemeenskap moet wakker skrik. Statistieke wys dat daar van April 2007 tot Maart 2008 ’n duisend gesinne in die Paarl berading by die SA Raad insake Alkohol- en Dwelmmisbruik (Sanra) ontvang het. Dit is amper ’n kwart van die totale hoeveelheid gesinne wat in dié tydperk in die Wes-Kaap berading by Sanra gekry het. In dieselfde tydperk het 560 jeugdiges en 764 vrouens ook berading ontvang. Terselfdertyd is meer as 400 mense in Paarl opgelei om Sanra met hul aktiwiteite by te staan. “Die probleem is baie groot. Dit kom oor die hele spektrum van die samelewing voor - arm of ryk, jonk of oud, dwelm- en alkoholmisbruik is groot en word groter,” sê Alet Ackerman, maatskaplike werker en hoof van Sanra in die Paarl. Jerry Henn, voorsitter van Sanra in die Wes-Kaap, beaam dit: “Misbruik vermeerder met rasse skrede en dit is besig om ons gemeenskappe, gesinne en veral ons jeug en kinders te verwoes.” Poppespelvertonings, terapeutie- se groepsessies, uitstallings, inligtingsessies en projekte saam met die polisie is deel van Sanra Paarl se dagtake. Dié tak beskik oor drie maatskaplike werkers, wat Alet insluit, een ontvangsdame, maatskaplikewerkstudente en ’n hele paar geesdriftige vrywilligers. Daar word ook gedurig deur men- se in die gemeenskap opgelei om Sanra met hul groot taak te help. Onlangs is die Wellington satellietkantoor geopen waar daar een maal elke tweede week een-tot-een onderhoude gevoer word. Afhanklikes word ook genooi om weekliks byeenkomste van die Christelike Afhanklikheidsdiens (CAD) by die ACVV-kantore by te woon Maandae om 19:30. Daar is ook CAB byeenkomste Maandae om 19:30 by die Zion-saal en die Alkoholiste Anoniem (AA) byeenkomste is Donderdae om 19:30 by die Holy Trinity Kerk in Hoofstraat. Alet Ackerman glimlag breed wanneer sy oor Sanra se projekte praat. “Ons is baie opgewonde oor die “Puppets”-voorkomingsprogram. “Ons maak gebruik van drie poppekas-karakters, hou die storielyn eenvoudig en sien sommer gou dat dit werk. “Die program, wat op die vyf- tot negejariges gerig is, gee aan die kinders selfvertroue en kennis om die misbuik van dwelms en alkohol teen te staan. “Op Wellington, waar die satellietkantoor in die Breakthrough gemeenskapsaal elke tweede week operasioneel is, maak mense afsprake waarna ons een-tot-een onderhoude het. Ons loop dan die pad met hulle deur rehabilitasie.” Vanjaar het Sanra ook saam met die polisie by twaalf skole in Drakenstein besoek afgelê met ’n program “Om nee te sê”. “Ons wil ook besighede aanmoedig om te kom aanklop indien hulle weet van werknemers wat ondersteuning met hulle probleme nodig het. Ons is daar om te help,” sê sy. Vanjaar het Sanra reeds ’n bewusmakingsweek, tien inligtingsessies en ’n ouerskapsprogram geloods. “Die ouerskapsprogram is geloods om ouers meer betrokke te kry,” sê sy. Die Local Drug Committee, ’n inisiatief van Sanra en die Departement Maatskaplike Diens, vergader ook elke kwartaal om die dwelmafhanklikheidsgroepe en inisiatiewe te koördineer en onder een sambreel te laat saamwerk. * Sanca Paarl is one of the beneficiaries of the Paarl Post Christmas Fund.
More
News
|