Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Kavaliers in binnebaan

Kavaliers in binnebaan
 
2008-10-23

Jaco van Wyk

DIE Boland Kavaliers se Elgar Watts het Vrydag net veertig minute nodig gehad om vier keer agter die doellyn te gaan kuier op Boland-stadion.

Met die Kavaliers se promosie-relegasiewedstryd teen die Griffons, wat die tuisspan met 54-15 gewen het, het die Wynboere dit duidelik gestel dat hulle bereid is om volgende seisoen wéér teen die groot manne van SA Rugby arm te druk.

Voeg by Watts se naam die Bolanders se titaniese skrum, gestuur deur Janro van Niekerk en Jacobie Adriaanse, die vermoë van Zolani Mofu om aanhoudend sy teenstanders te betrap wanneer hulle dit die minste verwag, asook die aanvallende vermoëns van manne soos Piet van Zyl en Danwell Demas, dan is enige opponent se voorland ’n lang, harde dag op kantoor.

Vandat Watts in die tiende minuut die bal onderskep het om die telbord aan die rol te kry, was dit asof die Kavaliers die enigste span was wat in die eerste helfte van die wedstryd opgedaag het om rugby te speel.

Die Griffons se Ashley Johnson (oud-Gimmie) was sy span se hardste werker in dié helfte, maar selfs hy het gesukkel om deur die Kavaliers se taai verdediging te breek.

Watts het in die 23ste minuut weer gaan druk om die telling 14-3 vir die tuisspan te maak ná Jandré Blom die Griffons vroeër op die telbord gekry het met ’n strafdoel.

Kort na Watts se tweede drie het Demas ’n losbal opgetel om sy naam by die driedrukkers s’n te voeg, waarna Watts, ongeveer 10 minute later, wéér oor die doellyn gewals het om sy driekuns aan drieë te behaal.

Watts se vierde drie het sowat twee minute later gevolg, waarna Van Zyl sy span se telling net voor rustyd verstewig het met ’n vyfpunter van sy eie.

Na 40 minute se spel was die telling reeds 42-3 in die Wellingtonners se guns.

Die boodskap wat rustyd aan die besoekers oorgedra is, moes sterk gewees het aangesien die Griffons met ’n veel sterker aanslag in die tweede helfte vorendag gekom het.

Die besoekers se kaptein, Sarel Louw, het sodoende vroeg in die tweede helfte sake in eie hande geneem om sy span se eerste drie te druk.

Dit het die Kavaliers egter nie afgeskrik nie, aangesien Deon Scholtz kort hierna sy vaart ten toon gestel het om te antwoord met ’n drie van sy eie.

Na ’n breuk van meer as vyf minute, met die slot Brad Mockford wat die veld op ’n draagbaar moes verlaat weens ’n nekbesering, het die besoekers weer met ’n drie geantwoord, dié keer deur Jacko Jackson.

Die tuisspan het egter die laaste sê gehad toe Lionel Cornelius ’n puik drie afgerond het om die telling 54-15 te maak.

Hoewel die Kavaliers nou in ’n gunstige posisie is om volgende seisoen weer diens te doen in die Curriebeker-kompetisie, het die Griffons steeds ’n buitekans wanneer die twee spanne môre, in Welkom, koppe stamp.




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za