DIE Suid-Afrikaanse Wingerd- en Wynkunde Vereniging (SAWWV) bied hul 31ste kongres van 11 tot 14 November by die Lord Charles Hotel in Somerset-Wes aan.
Twee internasionale kundiges is genooi as gassprekers. Dr Elisa Angelini van Italië sal kongresgangers toelig oor astervergeling, die nuwe siekte wat onlangs vir die eerste keer in wingerde in die Wes-Kaap waargeneem is.
Wingerdvergeling kom algemeen in Europa voor en dr Angelini sal haar ondervinding met kongresgangers deel. Sy is ook ’n deskundige op virussiektes van wingerd en in besonder molekulęre studies van virus- en fitoplasmasiektes.
Prof Alain Deloire van Montpellier, Frankryk, sal ook tydens die kongres as gasspreker optree. Sy aanbieding handel oor die bestuur van wingerdpotensiaal van terroir tot die mark. Hy lei die optimale rypheid-sessie in met sy praatjie.
Sy navorsingsveld sluit in terroir, wingerdbiotegnologie, wingerdfisiologie, druifaromaprofiele en druifkorrel-biochemie.
Ander onderwerpe wat ook by die kongres bespreek gaan word, sluit in analitiese metodes, wynkundige aspekte, grond- en waterkunde, volhoubare wingerd- en wynkunde, wingerdfisiologie, terroir en mikrobiologiese aspekte.
Woensdag 12 November sal die algemene jaarvergadering van die SAWWV gehou word. Die volledige program en registrasievorm kan by www.sasev.org gevind word of kontak die kantoor by 021-889-6311.