Boishaai maak byna skoonskip
2008-10-23
Jaco van Wyk
HOËR JONGENSKOOL het die naweek gewys dat min spanne met hulle kan saamgesels wanneer sake op die tennisbaan uitgespook word. Die Boishaaiers is tydens Hoër Landbouskool Boland se jaarlikse tennisfees, wat Vrydag en Saterdag plaasgevind het, vir die derde jaar agtereenvolgens as die wenners aangewys. Die Boishaaiers het immers 43 wedstryde, uit die 44 wat gespeel is, gewen om vanjaar wéér met die louere weg te stap. Buiten HJS en Landbouskool het seunspelers van Hoërskool Gimnasium, Hoërskool Cradock, Outeniqua, Oakdale, Menlo Park en Marlow Landbouskool aan die toernooi deelgeneem. In die rondomtalie-wedstryde het HJS afgereken met Outeniqua (32-0), Hoër Landbouskool Boland (32-0) en Marlow (32-0), voordat hulle in die finaal vir Cradock met 21-3 getrap het. Boishaai se tennis lyk waarlik goed en die skool het groot planne met hul spelers vir die toekoms.
More
News
|