Paarl-Oos III staan sterk
2008-10-30
GMT Paarl-Oos se derde krieketspan het met swak veldwerk en verbroude vangskote byna toegelaat dat hul opponente, Wellington III, Saterdag ’n onbereikbare telling behaal het op laasgenoemde se tuisveld. Uitmuntende dryf-, kap- en swaaihoue deur Roger Cupido het egter aan die Paarliete ’n oorwinning besorg in die twee spanne se 20/20 wedstryd. Wellington het 151/6 lopies aangeteken in twintig boulbeurte, met Jacques Beukes (20, 3x4), Danie van Zyl (56, 3x4 en 1x6) en Cedrick Williams (54, 4x4 en 2x6) wat die beste met die kolf vertoon het. Lucien Andries (2/28 na 2) en Winston Willemse (2/29 na 4) was die wenspan se beste boulers. Paarl-Oos het hierop gereageer met 154 lopies ná 18,5 boulbeurte, met Roger Cupido (77, 9x4 en 1x6), Justin Williams (20, 3x4) en Lucien Andries (20, 4x4) wat die beste gekolf het. Jerome Hendricks (2/18 na 2 boulbeurte) was Wellington se beste bouler. Paarl-Oos het dié wedstryd dus met vier paaltjies gewen. Saterdag meet die manne weer kragte in die 45-boulbeurtkompetisie. Paarl-Oos I en II speel teen Paarl I en II op die Parys-velde. Paarl-Oos III speel teen Northdene II op Allandale in ’n 20/20 wedstryd. Sondag speel Paarl-Oos I en II teen Bergrivier I en II in ’n 20/20 wedstryd. Paarl-Oos se bestuur vergader Woensdag 5 November in die klubhuis by New Orleans.
More
News
|