Kavaliers groet groot kanon
2008-10-30
Jaco van Wyk
MET 144 wedstryde op sy kerfstok het een van die grootste angels in die Kavaliers se arsenaal, Piet van Zyl, bevestig dat hy sy swart-en-goud trui verruil het vir die wit trui van die Vrystaat Cheetahs. Vrydag se promosie-relegasie wedstryd teen die Griffons mag dus die oud-Boishaaier se laaste wedstryd vir Boland gewees het. Van Zyl het onlangs ’n kontrak van sewe maande gesluit met die Super14 span wat beteken dat die 29-jarige senter uiteindelik sy talente kan loslaat teen die beste spelers in die Suidelike Halfrond. “Ek sien die geleentheid om vir die Cheetahs te speel as een van my laaste kanse om my vermoëns op ’n hoër vlak te bewys,” sê Van Zyl. “Die besluit was egter nie maklik nie aangesien ek reeds die laaste sewe jaar van my loopbaan vir die Kavaliers speel. “Die Kavaliers is iets waaraan ek al gewoond is en veral Vrydag se wedstryd teen die Griffons was ’n baie emosionele oomblik vir my. “So hartseer soos ek is, so opgewonde is ek egter ook oor die nuwe uitdaging wat voor my lê,” sê Van Zyl. Volgens Deon Davids, hoofafrigter van die Kavaliers, gaan Van Zyl beslis ’n gaping laat wat moeilik gevul gaan word. “Hy was vanjaar ons kaptein en het die span met uitnemendheid gelei. “Ons verloor ook baie ervaring hierdeur, aangesien Piet onlangs die speler geword het om die meeste wedstryde vir die Kavaliers te speel,” sê Davids. “Terselfdertyd is ons ook baie bly vir hom aangesien Piet nou ’n kans gegun word om sy staal te toon in die Super14-kompetisie.” Volgens Van Zyl is daar baie onvergeetlike oomblikke wat hy saam met die Kavaliers beleef het. “Die twee oorwinnings wat ons oor WP behaal het staan egter vir my uit. Dan het ek ook die laaste tyd, as kaptein, ongelooflik baie geniet.” Die groot vraag is egter of Van Zyl ooit weer vir die manne van Wellington in aksie gaan wees. Net soos sekerlik elke Kavaliers-ondersteuner, is Davids hoopvol dat vanjaar nie die laaste keer was wat die giftige spelbreker die Kavaliertrui oor sy kop getrek het nie. “Van Zyl het ’n kontrak van sewe maande met die Cheetahs geteken, so miskien kan ons hom in volgende jaar se Curriebeker- reeks weer in aksie sien vir die Kavaliers.” * Drie ander Kavaliers, WP Nel, Jean Botha en Danwell Demas, sal ook volgende seisoen vir die Cheetahs diens doen.
More
News
|