Coessa-span steeds op dreef
2005-07-21
DIE Coessa/Rhadsport beroepsfietsryspan het verlede naweek weereens bewys dat hulle by die dag verbeter.
Die span het Saterdag weer ’n tweede en derde plek losgery tydens die WP winterliga-wedren.
Conrad Siebrits het tweede geëindig nadat hy harde werk gedoen het in ’n wegbreek-poging saam met Wesley Cole.
Cole het Siebrits in die naelrit na die wenstreep net-net geklop. In die naelrit om die derde plek het Garth Thomas gewys dat hy besig is om sy goeie vorm weer terug te kry.
Hy het met skitterende vaartversnelling onder die res van die ryers in die bondel uitgery.
Durwin Benjamin, Ashley Kulsen en Eben March het in die wedren gewys wat goeie spanwerk is, deur Thomas feitlik deur die hele wedren te beskerm en hom vars tot in die naelrit na die eindstreep te bring.
In die o.14-wedren het Avery Arendse van Yorkshire Fietsryklub koning gekraai. Magdalene Nicholson was derde in die vroue-afdeling.
Nathan Cornelissen van Rhadsport het in die o.12-wedren tweede gekom.
In verlede Sondag se 160km voorgee-wedren, waar sommige ryers tot drie ure voor die laaste groep weggespring het, het Durwin Benjamin gewys oor watter talent hy beskik, toe hy die wedren oor die vinnigste tyd afgelê het.
Hier het die Coessa-span weer met goeie spanwerk eers verseker dat hul groep die vinnigste tyd sou opstel.
In die laaste 20km van die wedren het die span se ryers aanval na aanval geloods om só van die meeste van hul teenstanders ontslae te raak.
Benjamin se aanval in die laaste 5km was deurslaggewend en hy kon daarin slaag om enduit voor die groep te bly. Garth Thomas het die tweede vinnigste tyd aangeteken.
More
News
|