Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Almal is wenners

Almal is wenners
 
2008-10-30

Malané Bosman

BY Ligstraalskool se kleuresport, Vrydag in Paarl-Oos, kon almal wen.

Of jy nou kruip, in ’n rolstoel vorentoe stoot, ’n deurmekaar draai maak of aan die hand van ’n maat draf, jy was ’n wenner.

En nie net het skoolhoof Joaline Lackay reggestaan met ’n medalje vir jou nek nie, maar vir elkeen was daar ook ’n troosprys, ’n warm druk en ’n soen op die koop toe.

Die lewensvreugde op die gesigte van die gestremde kinders en die liefde en bedagsaamheid waarmee die personeel en die kinders mekaar aangepor en gehelp het, het al die mammas en pappas en ander toeskouers se harte week gelaat.

Van konvensionele baan- en veldnommers is daar by Ligstraal se jaarlikse kleuresport nie sprake nie.

Die items is aangepas sodat die kinders met gestremdhede elkeen in iets kan uitblink en so ’n wenmedalje om die nek kan voel swaai.

Die 236 kinders by die skool is in drie huise ingedeel – geel, rooi en groen. Bont geklee in T-hemde sodat hulle bymekaar pas, sommige met tromme en musiekinstrumente gewapen, het die spangees hoog geloop.

Eerste op die program moes deur ’n hoepel gekruip word, daarna lekkergoed uit ’n bak vol meel gehap word.

Om ’n ballon stukkend te sit, het nie in elkeen se broek gesit nie en die eendstap, met die voete van drie man vasgemaak aan planke weerskante, het gesorg vir baie plaaskoop.

Nadat ’n deurgesnyde appel uit ’n bakkie water geslurp is, is boontjiesakkies gegooi, maters geabba. Blikkies is opmekaar gestapel, bottels is vol water gemaak en daar is drie-been­tjie en met eiers op lepels gedraf.

Die stapel hoëhakskoene waar deelnemers – meisies én seuns - pare bymekaar moes pas, dit aantrek en dan wankel-wan- kel aantrippel na die wenstreep, het beslis vir die meeste gelag gesorg.

En toe kom die hoogtepunt van die oggend – nael tot by ’n bord met ’n lekker, sappige muffin daarop. Die muffin moet eers opgeëet wees voordat die atleet met ’n tevrede glimlag verder na die wenstreep kan hardloop.

Die finale bekeruitdeling was eintlik ’n bysaak, want by hierdie kleuresport was almal mos wenners.




More News
  • Gasheer vir stoei
  • Show-jumping inter-schools at Evergreen
  • Met 'n groot glimlag vorentoe
  • Wiese uit sy nate oor oorsese toer
  • Boishaai gesels saam met grotes
  • Paarl Juniors hit five
  • Sixteen teams in soccer tournament
  • Alexa skrik nie vir 300 doele nie
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za