Peoples hol Paarl flou
2005-07-21
DIE eerste span van Young Peoples het Saterdag in ’n spannende wedstryd op Faurestraat Stadion vir Paarl Rugbyklub 22-18 (12-13) geklop.
Peoples het vier drieë ingeryg vir ’n belangrike bonuspunt, teenoor die Paarl se twee.
Die spanne het aanvanklik goed teen mekaar opgeweeg, en Paarl het soos verwag met sy voorspelers probeer domineer.
Net soos teen Albions die vorige naweek het Paarl vinnig punte aangeteken en ná 20 minute 10-0 voorgeloop danksy ’n drie deur Llewellyn Davids (senter) en ’n doel- en strafskop deur losskakel, Chutney van der Merwe.
Die swaarder Paarl-pak wat verwoesting gesaai het teen Albions en Franschhoek, kon nooit sy stempel op die wedstryd afdruk nie. Peoples se veel ligter agttal het met eer uit die stryd getree.
Die Tiere se pak het nooit toegelaat dat hulle oordonder word nie en die feit dat Cedric Williams (haker) ’n volle wedstryd gespeel het, kon baie met hul sukses te doen gehad het.
Peoples het selfs die vaskopstryd (in tru-rat) met 3-2 gewen.
Die maroentruie van Barry Williams het in elke Paarlse lynstaan met twee springers gekompeteer en ook hier die Paarl se besit bederf.
Die tuisspan moes ’n groot sluk van sy eie medisyne neem toe Peoples die enigste voorspelerdrie ná ’n rolmaalbeweging gedruk het.
Agterlangs was Paarl geen kompetisie vir die spoed en flair van die Peoples-snellers nie.
Die Tiere se ondersteunende spel, veral in die agterlyn, was goed - daar was elke keer ’n speler wat die beweging kon verder voer.
Heelagter Thysie Pietersen, vleuel Manie Adams en senter Ben Martin het hul opposisie telkemale met puik spel in die lug laat gryp.
Vir Peoples het Pietersen, Adams (2) en Carlo Carollissen drieë gedruk. Pietersen het egter sy skopskoene tuis vergeet en kon met net een uit sewe pogings na die pale slaag
Paarl se tweede drie is vroeg in die tweede helfte deur Brian Cramer (vleuel) gedruk nadat hy ’n steekskoppie van Davids goed opgevolg het.
Benewens Davids, en Van der Merwe het Jaco du Plessis, Stefan Grobbelaar, en Andrieg Brand ook vir Paarl uitgeblink.
Paarl II en III wen 5-3 en 10-0.
More
News
|