Beboet lakse eienaars van leë erwe
2008-10-30
EK bly langs een van die toegegroeide erwe in New Orleans, Paarl, waarvan “ongelukkige inwoner” skryf en kan jou verseker daar word meer as net vullis gestort. Wat ons daagliks sien en hoor wens ek niemand toe nie. Ek het toevallig Dinsdag 21 Oktober die Munisipaliteit geskakel om dit te bespreek. My oproep was deurgeskakel na ’n nommer wat net die heeltyd lui. Ek voel ook die eienaars moet verantwoordelik gehou word vir hul erwe maar natuurlik wil hulle eers ’n bietjie gelei word in die regte rigting. Die Munisipaliteit maak die erwe skoon en dit word dan op die eienaar se belastingrekening gevoeg. Omdat die bedrag minimaal is, gee eienaars eenvoudig nie om om te wag totdat die Munisipaliteit dit doen nie. Ek stel voor dat die tarief om private erwe skoon te maak aansienlik verhoog word sodat die eienaars gestraf word vir hul laksheid. Dan kan die Munisipaliteit ook daardie erwe meer gereeld skoonmaak. Dit sal ons munisipale koffers aansienlik aanvul en hopelik ‘n positiewe uitwerking hê op die nalatige eienaars. Dit is regtig jammer dat ons raad te besig is om mosies van wantroue in te dien en nie met oplossings vorendag kan kom vir die vele probleme waaronder ons gemeenskap gebuk gaan nie. Omgeërfde buurman
More
News
|