EK is al geruime tyd bekommerd oor die gate wat al groter en dieper raak in die deel van Albertstraat in Wellington tussen Bainstraat en Burgstraat.
Sondag 2 November is ons op pad Paarl Mall toe, en sowaar ná die reën die vorige nag is die gate so vol water dat in een van die gate ’n tortelduif ’n heerlike oggendbad vat.
Tot my spyt het ons nie die kamera byderhand gehad nie, anders kon ek nou ’n oulike foto by hierdie brief gesit het.
Net ander dag het my seun aan iemand gesê toe dié vra waar hy kan parkeer, om sommer in een van die gate stil te hou, die ander karre sal maklik bo- oor sy kar kan ry.
Nou wonder mens net hoe lank dit nog gaan neem vir die Munisipaliteit om iets aan die gate te doen. Ek vra maar net!
Inwoner Albertstraat, Wellington