Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Nuwe groen-woonbuurt beoog

Nuwe groen-woonbuurt beoog
 
2008-11-06


ROZELLE, Wellington se heel eerste groen woonbuurt, is tans in sy finale beplanningsfase.

Elkeen van die 17 huise in Rozelle is nie alleen so ontwerp dat hulle koel in die somer en warm in die winter sal wees nie - inwoners sal ook met groot besparings op hul krag- en waterrekeninge kan spog.

Adriaan Pretorius, die ontwikkelaar van Rozelle, wat anderkant die Kromrivier langs Addyweg geleë sal wees, is reeds baie jare lank besig om metodes te ondersoek om ’n volhoubare omgewing te skep.

Hy is ’n argitek en het reeds talle huise ontwerp wat elektrisiteit met behulp van sonkrag opwek en wat waterverbruik tot ’n minimum beperk deur dakwater te gebruik wat uiteindelik ook as gryswater in die tuin herbenut word.

Rozelle sal volgens hom op verskeie terreine verskil van ander veiligheidsdorpies wat deesdae in en om Suid-Afrika se dorpe en stede opgerig word.

Alhoewel daar in Rozelle ruim voorsiening gemaak word vir die behoeftes van bejaardes, sal daar ook talle jong mense in die dorpie woon.

“Die belangrikste verskil bly egter dat warm water in elke huis hoofsaaklik met behulp van sonkrag opgewek word en dat elke huis se dakwater vir herbruik opgevang word.

“Die hele ontwikkeling is wel gekoppel aan die munisipale krag- en waterstelsel, maar in Rozelle sal inwoners min gepla word deur kragonderbrekings en sal hulle krag- en waterrekeninge aansienlik laer as elders wees.

“Alle water wat in die huis gebruik word, word spesiaal gefiltreer. Wanneer die dakwater begin min raak, word daar outomaties oorgeskakel na munisipale water.

“Alle gryswater uit die woonhuise word ook opgevang en hergebruik in die tuine en in gemeenskaplike oopruimtes.

Wat elektrisiteit betref, sal elke huis wel gekoppel wees aan Eskomkrag, maar dit sal ook toegerus wees met deeglik beproefde sonpanele en sonkragbatterye.

Wanneer verbruik in die huis die kapasiteit van die sonpanele oorskrei, word daar outomaties oorgeskakel na Eskomkrag.

Die huise word ook so ontwerp dat die eienaars baie maklik addisionele panele kan installeer om hul vermoë om self krag op te wek, verder te verhoog.

Elke huis is toegerus met twee warmwatersilinders van 150-liter elk wat met sonkrag verhit word. Een van hierdie silinders sal ook met behulp van Eskomkrag verhit kan word.

Elke huis sal daarom die meeste van die tyd oor 300 liter warm water beskik wat gratis met sonkrag opgewek word, maar op erg bewolkte dae sal daar 150 liter warm water wees wat met Eskomkrag verhit is.

Elke huis se dakwater word in twee watertenks van 5000 liter elk opgevang. Die water word uit die tenks met hoëdrukpompe deur ’n filtreerstelsel na die krane in die huis gepomp.

Sodra die rëenwater min raak, word daar outomaties na munisipale water oorgeskakel.

Omdat die water uit die tenks en ook die munisipale water deur die filtreerstelsel gaan, is daar te alle tye gefiltreerde water in elke kraan in die huis beskikbaar.

Daar sal verder ’n tenk van 1000 liter wees waar elke huis se grys water opgevang word vir tuingebruik.

Stormwater word in ‘n ondergrondse tenk gestoor vir besproeiing van die tuine. - Johan Nel




More News
  • Hotel to convert to retirement centre
  • Nuwe daghospitaal vir Noorder-Paarl
  • Progress in Klapmuts
  • Green office block planned for Paarl Mall
  • Skole speel groot rol in Drakenstein se eiendomsmark
  • Woonstelmark wil-wil wakker word
  • Objections to Waterfront development
  • Farm up for auction
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za