Hoop vir gestremdes
2008-11-06
"MENSE wat intellektueel gestremd is, word gewoonlik op die kantlyn geskuif as dit kom by werkgeleenthede,” sê Nabeelah Allie, werkafrigter van die Drakenstein-sentrum vir Persone met Gestremdhede se Siyanceda National Youth Service (NYS) program in Simondium. Volgens Allie kan intellektueel gestremdes deur die NYS program hulself bemagtig deur spesifieke vaardighede aan te leer en terselfdertyd word hulle ook voorberei vir die arbeidsmark. Leerders ontvang weeklikse opleiding wat behels werksvaardighede en lewensvaardighede wat aangebied word deur ’n arbeidterapeut, Maré Smith. Die NYS program is ’n inisiatief van die Wes-Kaapse Geestesgesondheidsgemeenskap as deel van die Opleidings Onbeperkte Program. “Die NYS program bestaan uit drie fases. In die eerste fase word leerders vaardighede aangeleer soos skoonmaak en tuinbou, hoofsaaklik toegespits op skoonmaak. “In die tweede fase, waarin ons nou is, word leerders uitgeplaas in verskeie instansies waar hulle hul praktiese ondervinding opdoen. Verskillende take wat aan hulle opgelê word, word uitgevoer, soos lokale skoonmaak, wassery, en instandhouding van persele en tuine,” aldus Allie. Met die hulp van Allie as hul werkafrigter, verkry die leerders die nodige leiding en word hulle gereeld gemonitor deur die hele proses. Leerders word na elke drie maande roteer by verskillende instansies waar hulle hul vaardighede toepas en terselfdertyd ook ondervinding opdoen. “Werkgewers van die instansies is baie beïndruk met die leerders se vaardighede en veral die vrywilligheid en geesdrif waarmee die leerders hul take doen,” sê Allie Hierdie dienste word vrywillig aan instansies gelewer en terselfdertyd doen die leerders praktiese ondervinding op en hul selfvertroue kry ’n hupstoot. Die leerders wat deel is van die projek verkry opleiding wat hulle in staat stel om erkenning te ontvang ingevolge die Nasionale Kwalifikasie Raamwerk. Vir meer besonderhede oor die NYS program, skakel Nabeelah Allie by 021-863-0446.
More
News
|