Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Skroot nou ook aan kortste end

Skroot nou ook aan kortste end
 
2008-11-06

Johan Nel

DIS nie net aandelepryse wat in die jongste tyd getuimel het nie. Die pryse van skrootmetaal het dramaties gedaal en dit het ’n direkte invloed op die armstes van die armes het, sê Christo Saayman, ’n bekende skroothandelaar van Wellington.

Volgens Saayman het die pryse wat skroothandelaars vir afval-yster en ander metale soos koper kan betaal, die afgelope maand feitlik oornag begin tuimel.

“’n Vrag skroot-yster wat ons kort gelede op ’n Vrydag nog teen R1200 ingekoop het, was die daaropvolgende Maandag kwalik sowat R700 werd,” sê hy.

“Vir afval-koper kon ons in Junie en begin Julie nog tot R33 per kilogram betaal. Dit het nou getuimel na agt rand ’n kilogram. Vir yster is tot R3 betaal. Hierdie prys staan nou op 40 sent per kilogram.”

Hy sê dat hierdie tamaai daling in pryse ’n kommerwekkende invloed op die armes in die gemeenskap het.

Volgens hom is daar talle mense wat ’n lewe maak uit die bymekaarmaak van afvalskroot wat hulle daagliks by skrootwerwe verkoop.

“Dit is wel so dat die onlangse hoë pryse ook mense nader gelok het wat nie op ’n eerlike manier bloot die omgewing skoon maak van afvalyster nie.

“Ek ken egter baie van die mense wat op klein maat lewer baie goed en hulle sal nie met gesteelde skroot by ons besigheid aankom nie.

“Dis vir hulle wat ek op die oomblik jammer kry. Hulle het gemiddeld R20 per dag verdien en nou het hierdie inkomste gedaal na R10 en selfs R5 per dag.”

Skroothandelaars in Wellington en omstreke is dit eens dat verskerpte polisie-optrede teen diewe wat koperkabels en ander skroot op plase steel, ook gemaak het dat diefstal skerp afgeneem het.

Volgens Saayman het die uiters streng polisie-optrede in veral Wellington se Sektor 3 oor die afgelope paar maande die probleme wat handelaars gehad het met diewe wat gesteelde goedere probeer verkoop, vinnig laat verminder.

“Dit het ons lewe as handelaars veel makliker gemaak. Onwettige verkopers is deesdae besig om soos mis voor die son te verdwyn – aanvanklik as gevolg van deeglike polisiëring en nou as gevolg van die daling in pryse.”

Superintendent Carien la Grange van Wellington polisie, sê dat daar nog voor die daling in skrootpryse reeds ’n skerp daling in diefstal van skroot vanaf plase in die Wellington-omgewing was. Die kanse dat die daling in pryse ’n verdere daling in diefstal tot gevolg kan hê, is volgens haar goed.

Benewens strenger polisie-optrede het die laer pryse nou veroorsaak dat die aansporing tot hierdie soort diefstal baie gekrimp het.


More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za