Man vas ná moord
2008-11-06
Lise Beyers
’n JONG man is verlede week in hegtenis geneem ná die gru-moord en verkragting van ’n vierjarige meisie op Wellington. Die lewelose liggaam van Abranechia Pass is verlede Dinsdagoggend enkele meters van haar ouerhuis op ’n plaas in die Bovlei, Wellington, gevind. Abranichia het die vorige aand verdwyn toe sy tussen die huise op die plaas gestap het. Willem Goosen (24) van ’n buurplaas is die aand van Abranechia se verdwyning tussen die wonings opgelet. Hy het volgens die dogtertjie se pa, Abraham Lucas, net rondgeslenter, en toe is hy weg. Goosen is bekend aan die familie en daar word vermoed dat hy maklik Abranechia se vertroue hierdie aand kon wen. Nadat die soektog na haar laat dié aand afgelas is, het ’n plaaswerker die volgende oggend vroeg op haar lewelose liggaam in vlak water, tussen riete afgekom by die plaasdam. Sy is vermoedelik verkrag en toe met ’n stomp voorwerp doodgeslaan. ’n Baie senuweeagtige Goosen het Vrydagoggend in die Wellington Landdroshof verskyn op aanklag van moord, te midde van 100 oproerige plaasinwoners wat geëis het dat hy aan hulle oorhandig word. Goosen se regsverteenwoordiger, Nicole Cronjé, het hierna sy borgaansoek laat vaar weens dreigemente van die skare. Die saak is uitgestel tot 4 Desember.
More
News
|