Sakeman aangehou
2008-11-06
NOG ’n bekende sakeman van Paarl-Oos is die afgelope naweek beroof deur gewapende mans. Fred Abrahams, eienaar van Fred’s Liquors in Klein Drakensteinweg, was Saterdagaand tuis, nadat hy sy besigheid vir die dag gesluit het. Kort na 20:00 het iemand aan sy voordeur geklop en toe hy dit oopmaak, het vier mans hul pad die huis ingedwing en hom oorweldig. Abrahams is met ’n vuurwapen gedreig en vasgebind. Die mans het ontsnap met R10 000 en Abrahams se selfoon en Toyota Yaris. Die motor is later verlate in Mbekweni gevind. Dit is die tweede rooftog van sy soort die afgelope maand in Paarl-Oos. Verlede maand is Wazier Gaffoor, eienaar van Centre Point Superette, wat in dieselfde kompleks as Fred’s Liquors is, ook tuis aangeval deur gewapende rowers. Drie gewapende mans het Gaffoor se dogter waarskynlik agtervolg vanaf die familiebesigheid, tot by hul woning in Charleston Hill. Die familie is toe ook met vuurwapens aangehou en beroof. Die mans het hierna gevlug, en die polisie het hul spoor gevolg tot die rand van Mbekweni, voordat hulle dit verloor is. Daar word vermoed dat daar ’n verbintenis tussen die twee voorvalle is. Enigiemand met inligting kan die Paarl-Oos speurtak skakel by 021-877-5900.
More
News
|