Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Amfiteater leef weer

Amfiteater leef weer
 
2008-11-06


DIE Paarlse sakeman Gerhard Meyer bou voort op die sukses van die pas afgelope Cultivariafees en blaas nuwe lewe in een van die Paarl se ikoniese landmerke.

Vir die eerste keer in twee jaar gaan die Paarlberg Amfiteater weerklink met die musiek van Suid-Afrika se gewildste kunstenaars.

Op 12 en 13 Desember kan musiekliefhebbers uitsien na twee fenomenale vertonings om die vakansieseisoen op ’n hoë noot af te skop.

Die Oppieberg skouspel op 12 Desember spog met van die land se topverkoper-kuns­tenaars soos Theuns Jordaan, Kurt Darren, Robbie Wessels en à capella groep Navi Redd tydens ’n gesamentlike vertoning.

Op Saterdag 13 Desember word die amfiteater omtower met die glans van silwerdoektreffers tydens die musikale extravaganza Tydloos III - “The magic of the movies”.

Hierdie eksklusiewe Cultivaria produksie was weereens die mees gesogte vertoning by vanjaar se fees en is geskeduleer vir ’n landwye toer van Desember tot Maart.

Sterre soos Jannie Moolman, Kevin Leo, Rina Hugo, André Schwartz, Arina de Witt en The Voices beloof om konsertgangers mee te voer op ’n nostalgiese reis met temaliedjies uit trefferflieks soos An Officer and a Gentleman, Titanic, Student Prince, Evita, Dr Zhivago, Ghost en vele meer.

Meer as 20 ton toerusting word geïnstalleer om klank, beligting, verhoog en dekor van uitsonderlike tegniese gehalte te verseker.

Spesiale aandag is ook geskenk aan die veiligheid van besoekers en sigbare sekuriteitmaatreëls sal streng toegepas word.

Kos- en wynstalletjies van produsente uit die Paarl omgewing sal sorg vir innerlike versterking tydens beide vertonings.

Die hekke maak reeds om 17:00 oop om besoekers die geleentheid te bied om ’n asembenemende sonsondergang te beleef.

Aangesien die organiseerders ’n wye verskeidenheid verversings beskikbaar stel, mag geen piekniekmandjies of ander verversings van buite ingebring word nie.

Meyer reken dat die Kaapse publiek en besoekende vakansiegangers kan uitsien na uitsonderlike vermaak in ’n ongelooflike ligging.

“Die gebrekkige infrastruktuur by die amfiteater was die hoofrede hoekom ek so lanklaas ’n konsert hier aangebied het.

“Gelukkig het die Taalmuseum intussen hierdie probleme aangespreek en is ons nou weer in die posisie om konserte van hierdie omvang in die amfiteater te bied.

“Die sukses van vorige konserte is ’n bewys dat die unieke atmosfeer van die amfiteater onoortreflik is. Waar anders in die wêreld kry ’n mens die geleentheid om kwaliteit vermaak met ’n glasie wyn in die hand in so ’n majestueuse omgewing te geniet,” voeg Meyer by.

Kaartjiebesprekings kan gedoen word by 021-872-9754 of bespreek aanlyn by www.cultivaria.com.

Kaartjiepryse wissel tussen R100 tot R150 per persoon.




More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za