Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Young Peoples skop goed af

Young Peoples skop goed af
 
2008-11-06


YOUNG PEOPLES het Saterdag die 45-boul- beurtkompetisie goed afgeskop deur Bergrivier op Wellington met vier paaltjies te klop.

Die tuisspan het die loot gewen en op verrassende wyse besluit om eerste te kolf in swaar bewolkte toestande.

Peoples het met akkurate boulwerk en skitterende veldwerk die tuisspan beperk tot 117 lopies, almal uit, in 43,1 boulbeurte.

Die twee aanvangsboulers, Charlton Daniels (2/6 in 7bb) en Lester Opperman (1/17 in 9bb), het die Bergrivier kolwers van die begin af op die agtervoet geplaas.

Later het die draai-boulers, Jarier Alexander (2/28 in 8bb) en die kaptein, Edwin Jacobs (2/21 in 7bb), die druk volgehou.

Die bouler wat egter die meeste verwoesting gesaai het, was Peter-John de Villiers (3/25 in 7bb). Hy het ’n goeie lyn en lengte gehandhaaf en baie gedissiplineerd geboul.

Bergrivier se Craig Abrahams (43, 3x4, 1x6) en Morne Albanie (36, 4x4) het hard probeer.

Ian Grey (34, 2x4 en 1x6) het vir Peoples ’n goeie begin besorg, maar op 64/5 was die besoekers ietwat in die moeilikheid.

Dit het egter die tafel gedek vir die kaptein, Edwin Jacobs (37*) om sy span op die ou einde deur te dra. Jacobs het nie ’n enkele grenshou aangeteken nie, maar gewys hoe ’n kolwer die druk hanteer, en tesame met Frederich Muller (15*, 2x4) sy span se totaal tot 119/6 (38 boulbeurte) gebring. Jacobs is as die speler van die wedstryd aangewys.

* Peoples II het op Daljosafat met 62 lopies afgereken met Bergrivier II.

Peoples het eerste gekolf en goeie beurte deur Lindsay Davy (28, 4x4),Chester Kuiler (28, 3x4) en Anrico Bailey (44*, 4x4 en 1x6), 205 lopies behaal (almal uit). Dit was veral Bailey wat pragtig kop gehou het, want op ’n stadium het Peoples gestaan op 138/7.

Vir Bergrivier het B Pretorius (3/36 in 7bb) en A Jordaan(3/21 in 8bb) skitterend geboul.

Peoples het op hul beurt baie goed geboul om die besoekers te beperk tot 143/9 na 45 boulbeurte. Slegs W Goetham (51, 3x4) kon enige weerstand met die kolf bied.

Mervyn Bock (2/29 in 9bb), Anrico Bailey (2/25 in 7bb), Wayne Jacobs (1/16 in 6bb), Ryan Davids (2/27 in 9bb) en Riaan Damonse (2/33 in 9bb) het almal goed geboul.

Peoples III het hul Pro 20 wedstryd teen Wellington III met 10 paaltjies gewen.

Peoples het met hul kolfbeurt die wentotaal (94) reeds in die agtste boulbeurt behaal toe die twee openingskolwers, James de Wet (45*, 8x4) en Audin Carolissen (35*, 6x4), die boulers aan flarde geskeur het.

Saterdag speel Peoples I op Daljosafat teen Malmesbury. Peoples II speel weg teen Malmesbury II en Peoples III speel tuis teen Paarl III in ’n Pro 20 wedstryd.




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za