Paarl-Oos troef buurspan
2008-11-06
PAARL KRIEKETKLUB is Saterdag, op sy tuisveld, ’n drag slae toegedien deur GMT Paarl-Oos in dié twee spanne se eerste wedstryd in die 45-boulbeurtekompetisie van die seisoen. Paarl-Oos het eerste gaan kolf en het aanvanklik gesukkel om op dreef te kom met die verlies van 2 paaltjies met slegs 25 lopies op die telbord. Verbroude vangkanse, verkeerde boulopsies en twyfelagtige beslissings het Paarl- Oos egter gehelp om 150/10, na 43,4 boulbeurte, aan te teken. Waylin September (36, 2x4) en Bruce Miller (35, 5x4) het met ’n vennootskap van 63 lopies om die 3de paaltjie meer aansien aan die kolfbeurt van die besoekers verleen. Die tuisspan se draaiers, Lynal Jansen (3/22), Hein Adonis (2/29) en Alfredo Adams (2/3), het gehelp om die besoekers se kolfaanslag in toom te hou. Die tuisspan se kolwers het gesukkel en slegs Michael Leask (22, 2x4) kon meer as twintig lopies aanteken in hul telling van 101/10. Elroy Abrahams (2/36), Tiaan Cloete (3/11) en September (2/12) het die paaltjies laat spat vir Paarl-Oos. * Paarl II (235/2) het met 93 lopies gewen teen Paarl- Oos II (142/9). Die tuisspan het eerste gekolf en 235 lopies aangeteken danksy pragbeurte deur Darryl Hendricks (97*, 11x4 en 1x6) en Graham Adams (73, 6x4 en1x6). Vroeër was Rudy Andrews (27, 3x4) betrokke in ’n vennootskap van 60 lopies saam met Hendricks om die eerste paaltjie. Hendricks en Adams het ’n vennootskap van 146 lopies aangeteken voordat Adams sy paaltjie verloor het. Paarl-Oos se kolwers kon net nie op dreef kom teen die boulwerk van Paarl se Wiehan Vermeulen (2/23), Denver van Reenen (3/28), Rohan Goetham (2/41) en Zandré Cloete (2/34) nie. Slegs Dane Schoor (26, 4x4), Wayne Jantjies (2, 2x4 en 2x6) en Leroy Goliath (38, 5x4) kon weerstand bied teen Paarl se akkurate boulwerk. Paarl IV (82/10) het Saterdag met 6 paaltjies verloor teen Easterns III (88/4) op Kraaifontein. Sondag het Paarl IV (151/9) met 6 paaltjies vasgeval teen Coronations III (152/4) op die Parys-velde. Komende Saterdag speel Paarl I en II op die Parys-velde teen Wellington. Wedstryde begin om 10:30. Paarl III en IV speel Saterdag weg teen onderskeidelik Young Peoples op Dal Josafat en Van der Stel III op Bergzicht, Stellenbosch. * Paarl-Oos se eerste span het Sondag vir Bergrivier I met 34 lopies verslaan. Kurt Julies (54, 7x4) en Waylin September (51, 2x4) was Paarl-Oos se beste kolwers, met Tiaan Cloete (2/22) en Hubert Ontong (2/27) wat die beste geboul het. In ’n 20/20 wedstryd wat Saterdag plaasgevind het, het Paarl-Oos III vir Northdene III, van Kraaifontein geklop.
More
News
|