Boland baas in sewes
2008-11-06
Jaco van Wyk
TRADISIONEEL het die Boland nog altyd gesorg vir van Suid-Afrika se mees vlugvoetige rugbyspelers. Dit is dus geen verrassing nie dat die Kavaliers die naweek vir die vierde keer in die laaste vyf jaar as die kampioene aangewys is van die Provinsiale Sewestoernooi. Dié toernooi het op Floridapark in Ravensmead plaasgevind. Met Arthur Janson wat Boland se sewesspan reeds die afgelope vyf jaar afrig, het die span nog elke jaar die finaal gehaal. Hulle kon slegs verlede jaar nie daarin slaag om die finaal te wen nie - ’n ongelooflike prestasie. Sewesrugby pas die Bolanders immers soos ’n handskoen en hulle het dit bewys deur KwaZulu-Natal - ’n katjie wat jy op geen veld sonder handskoene pak nie - in die finaal met 61-21 te slag. Boland het vroeër, in die een halfeindstryd, met 21-17 geseëvier teen die Vrystaat. In die ander halfeindstryd het KZN die Arende met 19-10 geklop. Een van SA se vinnigste spelers oor 40 meter, die Kavaliers se Deon Scholtz, het met sewe drieë die toernooi afgesluit as die voorste driedrukker. Volgens Janson, wat vanjaar vir die tweede maal die opkomende Springbok sewesspan gaan afrig, is hy gelukkig om met so ’n groep begaafde spelers te werk. “Ons het slegs twee oefeninge gehad om voor te berei vir die toernooi. Sulke tye help dit om op die spelers se ervaring te kan terugval. “Die feit dat Boland se klubspanne soveel aandag gee aan sewes help ongelooflik baie om die spelers voor te berei om op ’n hoër vlak mee te ding.” Volgens Janson is daar baie potensiaal in die Boland. “Boland is finansieel miskien nie so sterk soos van die groter unies nie, maar die strukture is daar en ons beskik werklik oor talentvolle spelers.” Met drieë wat in dosyne gedruk word tydens sewes-rugby, is dit ’n sport wat toeskouers se bloed vinniger laat pomp. Met 84 seweswedstryde wat oor twee dae gespeel is, en 16 provinsiale spanne wat hul staal kon toon tydens dié toernooi (vroue- en manspanne het deelgeneem), het die Provinsiale Sewestoernooi beslis die sewes-reputasie gestand gedoen. * In die vroue-kompetisie het die Oostelike Provinsie afgereken met die Blou Bulle (49-8).
More
News
|