1000 erwe op Boschendal
2008-11-13
MEER as 1000 nuwe wooneenhede word beoog op die historiese wynlandgoed Boschendal. Die finale verslag oor die omgewingsimpak van die voorgestelde ontwikkeling van die Boschendal-plase in die Dwarsriviervallei is nou beskikbaar by die biblioteke in Franschhoek, Paarl, Stellenbosch en Pniel munisipale kantoor. Dit is ook ter insae beskikbaar op die webtuistes www.boschendal.co.za en www.total-impact.co.za. Die eiendomme beoog vir ontwikkeling is in die Dwarsriviervallei geleë, en is 1821,24 hektaar groot. Die grens van die beoogde eiendom strek vanaf die kruising van die R45 en die R310, tot by die dorp Kylemore. Daar word beoog om ’n vermenging van landbou, residensiële, toerisme, eko-toerisme en kommersiële grondgebruik toe te pas. Die voorstel sluit in sowat 1056 erwe van groottes tussen 270 vk meter en 1400 vk meter en sluit residensiële erwe, ’n aftree- oord en ’n kommersiële sentrum in. Binne hierdie gebiede word ’n totaal van 120 gasvryheid-eenhede, 23 plase, ’n versorgingsentrum en klubhuis ook beoog. Die voorstel sluit ook die registrasie van ’n 99-jaar serwituut oor die landbougrond in, wat ongeveer 45% van die totale oppervlak van Boschendal se grond in die Dwarsriviervallei (sowat 1050 ha) sal beslaan. Geïnteresseerde en Geaffekteerde Partye wat geregistreer is en kommentaar wil lewer, moet dit teen Vrydag 12 Desember indien (Departementele Verwysing: E12/2/3/2- B4/11-0698/08).
More
News
|