Somerseisoen begin by Oude Libertas
2008-11-13
DIE Oude Libertas Amfiteater op Stellenbosch open sy somerseisoen op 26 November met twee gevierde soliste, Zanne Stapelberg en Nicholas Nicolaidis, in die Première Galakonsert. Ook op die verhoog saam met hulle is die Tygerberg Kinderkoor en die Voices of Angels Choir. Liedere soos Angus Dei, Nella Fantasia, O Holy Night, Tears in Heaven en die duet Tonight uit West Side Story is onder meer te hoor. Die vol program duur tot einde Maart. Vir kabaretliefhebbers is daar Kissed by Brel (wenner van drie Fleur du Cap-teatertoekennings) met Claire Watling en Godfrey Johnson en hul treffende aanbieding van die gevierde kunstenaar. Nataniël begin die feesseisoen op ’n vroeë noot met Egg Whites en Angel Food, waarin hy kyk na eksentrieke karakters, wonderwerke en die kreunende Kerstafels. Een van die seisoen se groot hoogtepunte is die vertonings van die Hollandse hofnar, kabaretster Herman van Veen. Emo Adams en sy groep, Take Note, kom wys waarom hy tans een van Suid-Afrika se gewildste kunstenaars is. Coenie de Villiers is vir die eerste keer in sewe jaar by die teater te sien. Die man met die diep stem, oftewel Mathys Roets, lewer saam met Matthys Maree ’n huldeblyk aan Cat Stevens, Roger Whittaker en Neil Diamond. Die fluitspeler Wouter Kellerman tree op saam met ’n groep uitgelese musikante in die produksie, Colour. Die wêreldmusiek-genre word verder verteenwoordig deur onderskeidelik die Kaapstadse groepe Tucan Tucan en Coda. Vir almal wat die gees van Kersfees eerstehands wil ervaar, is daar Richard Cock se A Christmas Celebration. Hierdie vertoning verkoop gewoonlik weke voor die tyd uit. Op ligter noot vermaak Wyk 14 met Frank Opperman en Op die vrou af 2, met Pedro Kruger en Jolette Odendaal. Die klomp maltrap musici van die eklektiese produksie, Alles op ’n Stok verstom gehore met klank, fisieke mannewales, toneelspel en by uitstek, musiek. Jazz entoesiaste kan ook nader staan vir kitaarghoeroe Steve Newman, asook ’n lekker Sondagmiddag Sundowner Jazz Jol met Schalk Joubert, Melissa van der Spuy, Shannon Mowday en Kevin Gibson. Die klassieke musiekprogram sluit violis Zoë Beyers in wat deur Francois du Toit begelei word. Die Kaapse Filharmoniese Orkes doen ’n uitvoering van Dvo ák se Simfoniese Variasies, Mozart se Sinfonia Concertante en Mendelsohn se viool Concerto. Die Duitse pianis, Florian Uhlig, word beskou as een van die mees individualistiese en vindingryke pianiste van die moderne era. Die jaarlikse Cape Classic Concert, wat fondse insamel ten bate van die bevordering van die kunste in die WesKaap, gaan vanjaar sorg vir ’n magiese ervaring met nege internasionale musikante. Die wêreldberoemde koor en wenner van twee Grammy-toekennings, die Soweto Gospel Choir, is vanjaar vir die eerste maal by Oude Libertas te sien. Besprekings kan gedoen word by Computicket of skakel Oude Libertas by 021-809-7473 of 021-809-7380. Verdere inligting is beskikbaar by www.oudelibertas.net of stuur ’n e-pos aan ola@oudelibertas.net.
More
News
|