Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Maak kos soos Reuben

Maak kos soos Reuben
 
2008-11-13


VIR almal wat hou van goeie kos, is daar nou goeie nuus. Reuben Riffel se eerste kosboek verskyn hierdie maand en dis ’n fees van maklike, eenvoudige resep- te wat ’n mens se tone skoon laat omkrul van lekkerte.

Kosmaak is vir Reuben, die jong kossensasie wat grootgeword het in die stofstrate van Groendal op Franschhoek, meer as net die saamgooi van ’n klomp bestanddele.

“As jy te veel met die bestanddele lol, verloor die kos sy essensie, sy identiteit. Dit wys ook dat jy nie die kos respekteer nie.

“Ek glo ’n mens moet altyd nuwe metodes probeer, maar eenvoud bly die belangrikste.”

En nou kan jy ook kos maak soos Reuben. Reuben kook: terug na toentertyd sal selfs jou ma se mond laat water.

Hoe klink salmskyfies met suurlemoensap, sojasous, knoffel en gemmer geskroei met ’n mengsel van rookwarm olyf- en sesamolie? Of goeie ou toffie-appels, maar met kaneelvla.

Natuurlik het Reuben geen bekendstelling nodig nie: Hy is die sjef en mede-eienaar van die restaurant Reuben’s op Franschhoek, maar het ook in 2004, toe hy skaars 30 was, met die louere weggestap in die Eat Out Johnnie Walker-restauranttoeken- nings, nie net met die prys Sjef van die Jaar nie, maar ook Restaurant van die Jaar.

In 2005 en 2006 het hy weer Eat Out se Top 10 gehaal, en in 2007 is hy aangewys as die Sunday Times se Sjef van die Jaar.

Maar ondanks sy vele suksesse en bekendheid in Suid-Afrika, het Reuben g’n grootkop gekry nie. Kos vat hom maar altyd weer terug na sy gelukkige, sorgelose kinderdae, na die brood wat sy ma gebak het, die onoortreflike soetgebak van sy antie Rebecca.

“Gewoonlik as ek lus word vir iets, onthou ek hoe my ma dit gemaak het.

Ma’s weet presies wat jy nodig het wanneer jy koud kry of moeg of rasend honger is.”

Reuben gebruik vandag nog die kruie wat sy ma by die restaurant kweek, en in sy pa se tuin is daar altyd pampoen, mielies, boontjies en murgpampoentjies.

“Daar is net iets aan tuisgekweekte produkte wat jy op geen winkelrak sal kry nie. Een van my ooms het altyd Granny Smith- appels onder die vloerplanke in sy huis gebêre. Die appels raak geel soos hulle verouder, en as jy een hap, kry jy ’n soet mond vol, amper soos soetwyn. Sulke appels kan ’n mens nêrens koop nie.”

Wat is Reuben se raad vir mense wat kosmaak?

“Koop wat in die seisoen is – ’n mens besluit nie wat jy gaan maak voor jy nie weet watter goeie bestanddele beskikbaar is nie.”

En sorg natuurlik dat jy Reuben kook: terug na toentertyd in die hande kry. Dis beskikbaar by goeie boekwinkels teen R330.

Skakel Annie Hoosain by 021-461-6808 of e-pos info@quivertree.co.za. Die webwerf is www.quivertree.co.za.




More News
  • Natural burials arrive in South Africa
  • Lofprysing Oppiberg
  • Bonsai Kai vergader
  • Benefit concert
  • Have a lazy day braai
  • Staan op in moeilike tye
  • Boeresport by fondsinsamelingsdag
  • Local schools shine in debate
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za