Wellington klop Paarl
2008-11-13
DIE Paarl krieketklub is Saterdag op sy tuisveld met drie paaltjies geklop deur Wellington, in ’n wedstryd wat tot aan die einde in die weegskaal was. Paarl het eerste gekolf en is beperk tot 167/9 in sy toegelate 45 boulbeurte. Alfredo Adams (28, 2x4 en 1x6), Lee-Roy Walters (36, 1x4); Lynal Jansen (21), Hein Adonis (36, 2x4) en Clint Philander (23) het aan die tuisspan se beurt ’n bietjie aansien verleen. Vir die besoekers het M Pfister (2/26), J. Swanepoel (2/32), I Opperman (2/26) en J du Plessis (2/45) die tuisspan se kolwers in toom gehou. Danksy Warren Groeneveld se onoorwonne beurt van 90 lopies (5x4 en 1x6) kon Wellington die wenlopies in die laaste boulbeurt behaal. Die geluk was net nie aan die tuisspan se kant nie aangesien verskeie pogings om kolwers uit te hardloop misluk het en verskeie vangkanse deur veldwerkers verbrou is. Philander was Paarl se beste bouler met 2/17. Clayton August (1/26) het ook die oog gevang. Paarl II (201/7) het met 62 lopies geseëvier teen die tweede span van Wellington (139/10). Die tuisspan het eerste gekolf en teken 201 lopies aan danksy goeie beurte deur Darryl Hendricks (33, 4x4), Graham Adams (53, 6x4), Cameron Cupido (27, 4x4) en Garron Arendse (32*, 1x4). Wellington se kolwers kon net nie op dreef kom teen die Paarl boulers, Denver van Reenen (2/31), David Gabriels (3/29) en Adams (2/4) nie, en eersgenoemde is uitgehaal vir ’n skamele 139 lopies. Slegs A Cears (27, 2x4) en P Williams (32, 3x4 en 1x6) het meer as 25 lopies vir die besoekers aangeteken. Saterdag speel Paarl I en II op Parys teen Young Peoples I en II. Wedstryde begin om 10:30. Paarl III speel op Kraaifontein teen Oostelikes III. Paarl IV se wedstryd teen Kromco, Sondag, is uitgestel tot op ’n latere datum as gevolg van die semi-finale van die Pro-20 wedstryde wat plaasvind. Alle spelers word versoek om die oefeninge op Dinsdae en Donderdae te Parys-velde (17:00) by te woon. Nuwe spelers is welkom. Saterdag 6 Desember bied die klub ’n hoenderbraai aan vanaf 15:00 teen R40 per bord. Kaartjies is beskikbaar by bestuurslede.
More
News
|