Peoples weer aan wenkant
2008-11-13
DIT was weereens ’n goeie naweek vir Young Peoples toe al drie krieketspanne aan die wenkant was. Die eerste span het op Daljosafat-stadion vir Malmesbury met tien paaltjies afgeransel. Peoples het slegs 100 lopies benodig vir ’n oorwinning nadat die tuisspan se boulers Malmesbury se kolwers totaal en al vernietig het. Charlton Daniels (2/15 in 9boulbeurte), Lester Opperman (2/16 in 5bb) en Peter- John de Villiers (2/10 in 6bb) was die groot uitblinkers. Peoples se twee openingskolwers het die wentotaal reeds in die 18de boulbeurt behaal. Ian Grey (56*, 10x4) het weereens skitterend gekolf en was goed bygestaan deur Herschelle Barron (28nun,1x4). Die tweede span het ook vir Malmesbury II, op Malmesbury, met 132 lopies geklop. Die Tiere het eerste gekolf en na 45 boulbeurte geëindig op 249/5. Die hele top-orde het goed gelyk. Lindsey Davy (68, 6x4 en 1x6), Melvyn Jackson (51, 5x4 en 2x6), Wade October (37, 3x4 en 1x6) en Riaan Damonse (34*, 3x4 en 1x6) het almal prag beurte gespeel. Malmesbury het deurentyd nie die lopies gejaag nie en eindig op 117/6 na 45 boulbeurte. Vir Peoples het Wayne Jacobs (1/16 in 9bb) fantasties geboul, en tesame met die draaiers, Ryan Davids (1/16 in 6bb) en Riaan Damonse (3/16 in 5bb), die tuisspan vasgepen. Die derde span het met ’n oorwinning in hul “derby-kragmeting”, oor Paarl III, ’n plek in die semi-finaal van die Pro-20 kompetisie bespreek wat Sondag plaasvind. Peoples het eerste gekolf en ’n reuse 171/8 in 20 boulbeurte aangeteken. Hier het Audin Carolissen (32, 3x4 en 1x6), Ashfaq Ahmed (60, 9x4 en 2x6) en Randall Arendse (40*,5x4) onder die Paarl- boulers ingeklim. Goeie veldwerk deur Peoples het daartoe bygedra dat Paarl kon eindig op 100/7 na 20 boulbeurte. Saterdag lei alle paaie na die Parys-velde wanneer Peoples I en II onderskeidelik teen Paarl I en II kragte meet. Die wedstryde begin om 10:30. Young Peoples bied op Vrydag 28 November ’n hoender- en worsbraai met slaaie aan. Dit is by die woning van Richard Davids in Bonapartelaan 25, Klein Parys teen R30. Kaartjies is verkrygbaar by bestuurslede (navrae by Jeff Adams by 082-566-3055)
More
News
|