EK is nie een vir presente en dié dinge nie. Inteendeel. Ek sal liewer enige tyd gee, in plaas van ontvang.
Net nou die dag het ek ’n reusebeesboud in biltonge opgesny en droog gehang.
En voordat selfs my kinders ’n stukkie hiervan kon kry, het ek dit klaar uitgedeel onder my vriende, en selfs vreemdes.
Dus was verjaarsdae en Kerstyd nog altyd vir my meer van ’n verleentheid as iets anders.
As iemand vir my iets gee, dan bloos ek gewoonlik rooier as Vader Krismis se rooi gewaad.
Maar gee wil ek.
My man sê altyd dat as ek die Lotto moes wen, sal die miljoene vinniger verdwyn as die tyd wat dit vir my geneem het om die kaartjie te koop. En boonop sal ek persoonlik niks te wys hê daarvoor nie.
Juis as kind het ek een jaar voor sonop op Kersoggend wakker geword kort nadat Kersvader by die skoorsteen afgeseil het om ons geskenke onder die helderversierde boom te plaas.
Ek was weereens skaam dat daar ’n pakkie met my naam daarop was, terwyl ek nie eens ’n briefie geskryf het nie.
Maar ek het ’n ander plan gehad.
Met die fraaie pakkie onder die arm het ek by die venster uitgeglip terwyl my ma-hulle nog geslaap het en by die straat af gestap na die verwaarloosde huisie op die hoek.
My pa was altyd so vererg deur die deurmekaar flenter-huis, wat hy gesê het ons buurt so ontsier.
Hier het ’n seuntjie gewoon, ek dink sy naam was Paul. Hy was so ’n jaar of wat jonger as ek, en as ek van die skool af verby sy huis geloop en gegroet het, het hy net grond toe gekyk en onsigbare klippe geskop.
Sy klere was maar altyd ’n paar groottes te klein vir hom, en dikwels was daar iewers op sy gesig ’n blou kol.
Ons het uiteindelik gehoor dat sy ma baie jare vantevore dood is en dat sy pa by die rioolwerke daar heel onder in die dorp gewerk het.
Laat snags kon jy die V8 enjin van sy pa se Valiant hoor as hy by die huis kom, van waar weet ek nie.
En soms baie laat in die nag kon ek vanuit my slaapkamer hoor hoe iemand brul en raas, en soms het ek my verbeel dat ek die naam Paul tussendeur die rumoer kon hoor.
En die oggend van Kersfees het ek besluit dat ek my geskenk op Paul se drumpel gaan los. Niemand sou weet dat ek my present weggegee het nie, en my pa-hulle sou net dink dat Kersvader besluit het dat ek nie ’n Kersgeskenk verdien het nie.
Dit sou in elk geval vir my gered het van daai ongemaklik geblosery later die oggend.
So is ek met die pienk pakkie by die straat af. Ek het nie geweet watter slaapkamer Paul s’n was nie.
Stadig sluip ek om die huis en by die eerste venster waar ek kom, hoor ek ’n bulderende gesnork, en ek weet sommer dadelik dat dit Paul se pa is.
Uiteindelik kry ek Paul se kamer en soos wat die maan effens deur die gordynlose gekraakte ruit skyn, sien ek sy stil figuur op ’n geroeste ysterkatel lê. Nie eens ’n kussing onder die kop nie.
Die venster is effens oop en ek skuif die ruit nog verder oop om die boks op die vensterbank te plaas. Paul wikkel effens in sy bed met die skuifgeluid, maar gelukkig slaap hy verder.
Daad gedoen, sluip ek terug na my huis met ’n lied in my hart.
My ouers was taamlik verward dat daar nie ’n geskenk onder die boom vir my was daardie oggend nie, maar ek het vinnig verduidelik dat daardie jaar nie my beste was nie, en klaarblyklik het ek niks verdien van Kersvader af nie.
Later die dag speel ek en my broer my sy splinternuwe Springbok-rugbybal in die straat.
Die hoek van my oog vang vir Paul onder in die straat. Weer het hy ’n flenters kortbroek aan met vuil kaalvoete. Maar hy dra ’n helder oranjekleurige trui met Paddington Beer daarop. Paddington was as kind my gunsteling beer.
Jaloesie het deur my are geloop, so mooi was die trui, maar toe ek verder opkyk na Paul se gesig, was daar vir die eerste keer ’n glimlag en ’n sprankelende oog wat vir my verwelkom het.
Stadig stap hy na ons toe en my broer gooi vir hom die rugbybal.
“Kyk” sê hy, en hy wys na sy trui. “Kyk wat my ma vir my vir Kersfees gegee het.”