EK reageer graag op die brief van Wange van Mollstraat (13 Nov 2008).
Ek is die vrou van die betrokke motorfietsryer wat sy tone in die ongeluk verloor het, wat die anonieme briefskrywer so breedvoerig beskryf.
Wange van Mollstraat, besef jy watter emosionele skade jy ons as gesin aandoen. Terwyl hierdie brief in die Paarl Post verskyn het, lê my man en pa van kinders al sewe dae in die hoësorg-eenheid van Paarl MediClinic.
Is dit regtig nodig om so ongevoelig te wees om ou wonde vir ons oop te krap?
Ons as gesin gaan deur ’n moeilike tyd, terwyl my man veg om gesond te word.
Jy noem dat hy aangeklam was, het jy enige bewyse om dit te staaf? As dit die geval was, sou die polisie dadelik op bloedtoetse aangedring het toe hulle hom net na die gebeure in die hospitaal besoek het.
Hy het nie net sy tone verloor nie, maar moes ook ’n noodoperasie op sy hand ondergaan, waar daar penne ingesit is.
Kan jy jou indink deur watter pyn hy moes gaan? Sou jy vir die polisie wag of sou jy eerder hulp gaan soek het?
Aangesien niemand behalwe hy beseer was nie, was dit die regte besluit.
Hy het wel vir talle omstanders gesê waar die polisie hom kon kry, omdat hy nie kon wag as gevolg van die erge pyn nie.
So, maak dus seker van jou feite volgende keer, voordat jy weer mense te na kom.