Van Paarl tot Bangkok met bedelaars
2005-07-28
GROOT was my verbasing toe ek, met ‘n onlangse besoek aan Thailand, geen bedelaars gesien het nie.
Thailand is ‘n land van wonderlike diversiteit. Die grootte en bevolking van Thailand stem min of meer ooreen met dié van Frankryk en ek was nuuskierig om meer van die Thaise kultuur te leer.
Ek kon hulle dalk misgekyk het, maar ek het gedurende my verblyf in Bangkok geen bedelaars of straatkinders raakgesien nie. Almal wie ek daar gesien het, het hard gewerk om hul geld te verdien.
Die mense daar is baie nederig. Die meeste besit ‘n stalletjie op straat waar hulle heeldag sit en probeer om hul produk te verkoop.
Die produkte wissel van klere, juwele, skoene tot kos- te veel om te probeer opnoem. Werksure eindig vir die meeste van die mense om 22:00.
Met ‘n werkloosheidsyfer in Suid-Afrika van omtrent 30%, kon ek nie help om te wonder of daar nie ‘n “lui kultuur” in ons pragtige land geskep word nie.
Ek word daagliks met die besluit gekonfronteer: “Om te gee of nie te gee nie”. Die skuldgevoelens pak my beet as ‘n straatkind my met pleitende oë en oop hande nader vir geld.
Ek moes eers Bangkok toe gaan om te besef: ek doen hierdie persoon nie ‘n guns om net geld te gee nie. Ek is eintlik besig om die kringloop van ‘n “lui kultuur” aan te moedig.
Hierdie mense moet LEER om te werk vir hulle geld, om werklik dit te verdien. Die kringloop moet gebreek word.
So volgende keer as jy ook voor die besluit staan om te gee of nie te gee nie, dink eerder aan iets wat die persoon kan doen voor hy/sy die fooitjie kry.
Op dié manier kan die persoon werklik leer hoe dit voel om te werk vir sy/haar geld.
Magriet Smit
More
News
|