Paarlberg Amfiteater weer aan die gang
2008-11-20
VIR die eerste keer in twee jaar gaan die Paarlberg Amfiteater weerklink met die musiek van Suid-Afrika se gewildste kunstenaars. Op 12 en 13 Desember kan musiekliefhebbers uitsien na twee fenomenale vertonings om die vakansieseisoen op ’n hoë noot af te skop. Die Oppieberg skouspel op 12 Desember spog met van die land se topverkoper-kunstenaars soos Theuns Jordaan, Kurt Darren, Robbie Wessels en à capella groep Navi Redd tydens ’n gesamentlike vertoning. Op Saterdag 13 Desember word die amfiteater omtower met die glans van silwerdoektreffers tydens die musikale extravaganza Tydloos III - “The Magic of the Movies”. Sterre soos Jannie Moolman, Kevin Leo, Rina Hugo, André Schwartz, Arina de Witt en The Voices beloof om konsertgangers mee te voer op ’n nostalgiese reis met temaliedjies uit trefferflieks soos An Officer and a Gentleman, Titanic, Student Prince, Evita, Dr Zhivago, Ghost en vele meer. Kos- en wynstalletjies van produsente uit die Paarl-omgewing sal sorg vir innerlike versterking tydens beide vertonings. Die hekke maak reeds om 17:00 oop om besoekers die geleentheid te bied om ’n asembenemende sonsondergang te beleef. Aangesien die organiseerders ’n wye verskeidenheid verversings beskikbaar stel, mag geen piekniekmandjies of ander verversings van buite ingebring word nie. Kaartjiebesprekings kan gedoen word by 021-872-9754 of bespreek aanlyn by www.cultivaria.com. Kaartjies kos el tussen R100 tot R150 per persoon.
More
News
|