Breëbors Paarliete
2008-11-20
SATERDAG se baanbyeenkoms, wat aangebied is deur die Peco Fietsryklub, het toeskouers trakteer met fietsry uit die boonste rakke. Heelwat van die WP en Boland se top-fietsryers het hul opwagting by dié byeenkoms gemaak. Van die plaaslike ryers het weereens bewys dat hulle geensins hoef terug te staan vir die res van die land se ryers nie. In die elite-afdeling het Garth Thomas (Charles Potgieter) die trofee vir die beste ryer ontvang. Lesley Snyders (Rhadsport) en Ivano Siebrits (Bellville) het ook goed gevaar in dié afdeling. Snyders het die hoofwedren van die dag, oor 30 rondes, op skitterende wyse gewen ná ’n goeie wegbreekpoging deur hom en Siebrits. Brandon Christians (Rhadsport) het as junior teen die elite-ryers gery en eerste gekom in die punte-wedren. Nog ’n junior ryer wat in die elite-af- deling meegeding het, Avery Arendse (Yorkshire), het ’n tweede plek in die uitvalwedren behaal, wat gewen is deur Thomas. Thomas het ook ’n derde plek in die punte-wedren, sowel as in die 30 rondes, behaal. In die o.16-afdeling het van die top- ryers in die WP en Boland mekaar behoorlik die stryd aangesê. Plaaslike ryers wat goeie vertonings gelewer het in dié afdeling was die o.14 fietsryer, Bradwin Daniels (Peco Fietsryklub, All4Security), wat deelgeneem het in die o.16-afdeling en twee tweede plekke behaal het in die 1500m en 15 rondes. Ander plaaslike ryers was Emile Jacobs (Ascends, eerste in die uitvalwedren), Nathan Cornelissen (Rhadsport, tweede in die onbekende afstand en derde in die uitvalwedren) asook Joswill Davids (Peco, derde in die 1500m). Plaaslike ryers wat trofees ontvang het vir die beste ryers in hul onderskeie afdelings, was Wade Theunissen (o.10), JC Jantjies (o.12), Bradwin Daniels (o.14,), Brandon Christiaans (junior) en Garth Thomas (Elite). Daniels het ook die trofee ontvang vir die beste Peco ryer van die byeenkoms, asook ’n algehele tweede plek in die o.16-afdeling. * Intussen het die Lenteliga Padseisoen tot ’n einde gekom. Plaaslike ryers het goed gevaar tydens dié reeks wat oor sewe wedrenne gestrek het. Bradwin Daniels was die algehele wenner in die o.12/o.14 afdeling en Brent van Rooyen het ’n derde plek in dieselfde afdeling behaal het. In die junior-afdeling het Brandon Christians ’n derde plek behaal, met Avery Arendse in die agtste plek.
More
News
|