Boorgat sink net skade
2008-11-20
Lise Beyers
ONRUS broei in Victoriastraat in die Paarl, nadat die sink van ’n boorgat waarskynlik gelei het tot geweldige skade aan die woning in dié straat. Verlede week het ’n boormaatskappy hul toerusting by Victoriastraat 9 afgelaai en aan ’n boorgat in die tuin van die woning begin werk. ’n Dag nadat daar begin boor is vir water, het die Van Schalkwyks, wat oorkant die straat enkele meter vanaf die boorperseel woon, met skok agtergekom dat krake in hul mure begin vorm het. Hulle elektroniese buitehek het twee-en-’n-half sentimeter geskuif - soveel so dat die hek nie meer kan sluit nie. Ellelange krake van ’n halwe sentimeter breed het ook op die plaveisel van die oprit na hul huis gevorm. Lorene van Schalkwyk vertel dat ’n eiendomsagent toevallig dieselfde oggend hul huis gewaardeer het. “Terwyl die agent besig was met sy waardasie, het hy nog kommentaar gelewer oor die netjiese toestand van die huis. “Maar letterlik ’n uur nadat sy hier weg is, het ons agtergekom dat die voorhek oop staan. “Toe ek dit wou toemaak, kon ek nie. Die slot was nou omtrent ’n hele duim van die muur af. “Hierna het ons die krake in die plaveisel gesien, en toe besluit ons om ondersoek binne die huis te doen. “Hier het ons op talle krake afgekom wat vroeër die dag nie daar was nie. “Die agente het baie foto’s geneem, en daar was toe geen krake nie.” Ook volgens die Van Schalkwys se tuinier wat dié oggend die plaveisel gevee het, was daar geen krake toe nie. Nog ’n diep kraak het gevorm dwarsdeur hul tuinmuur. Van Schalkwyk het dadelik die booringenieurs beveel om hul werk te staak en die Munisipaliteit is ingeroep. Almal het hul koppe gekrap oor die onverklaarbare krake wat by die huis opgeduik het. Maandagoggend het nog ingenieurs besoek afgelê by die toneel. ’n Volle verslag sal nou eers saamgestel word om die rede vir die skade vas te stel. “Dit is net te toevallig dat hierdie voorval plaasgevind het terwyl die boordery aan die gang was.” Intussen het ’n muur van Victoriastraat 9 ook begin kraak, en moes vandeesweek gestut word. ’n Woordvoerder van die Munisipaliteit het gesê dat daar geen wetgewing is wat die sink van boorgate verbied nie. Enigiemand het dus die reg om een in hul tuin te laat sink. * Cracks started forming on a house in Paarl, while a neighbour was sinking a borehole.
More
News
|