Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Nie net goed op Papier

Nie net goed op Papier
 
2008-11-20

Jaco van Wyk

TYDENS Paarl Primêre Seunskool se onlangse beker-uitdeling het die dertienjarige Darren Papier gewys waarom al wat ’n spog- sportskool is, baklei om die dienste van dié jong sportman te bekom.

Darren het tydens dié bekeroorhandiging niks minder nie as vier trofeë ingepalm.

Trofeë wat Darren ontvang het, is dié vir rugby, atletiek en krieket, waarna hy ook aangewys is as die sportman van die jaar om ’n besonderse sportjaar te kroon.

Natuurlik is daar meriete verbonde aan Darren se prestasies. Hy was vanjaar ’n sleutelfiguur op losskakel in Klein Boishaai se o.13 A-span, wat gelei het tot sy insluiting in WP se o.13 Cravenweekspan.

In graad 6 het Darren ook WP se o.12 span verteenwoordig.

Op die atletiekbaan is Darren gewoond daaraan om stof in die oë van sy opponente te skop aangesien hy vanjaar as die o.13 kampioen gekroon is in die 200m tydens die SA kampioenskappe in Bellville. Hy het ook ’n tweede plek behaal in die 100m tydens dieselfde kampioenskap.

Op die krieketveld het Darren onlangs die o.13 Boland krieketspan gehaal wat in Desember aan die Standard Bank toernooi, in Pretoria, gaan deelneem. Hy het in die verlede ook die Boland o.11 krieketspan gehaal.

Dit is dus geen wonder nie dat ’n skool soos Paul Roos Gimnasium hard vry om Darren se talente in Stellenbosch te kry.

Darren se pa, Warren Papier, wil egter niks weet van Stellenbosch nie en hou vol sy seun is ’n Boishaaier.

“Hier kan ek hom darem onder my wakende oog hou,” skerts Warren.

Darren se talente is beslis iets wat hy geërf het, maar alhoewel sy pa self lief is vir sport, erken hy dat Darren sy talente eerder van sy twee oupas geërf het, veral wat rugby en krieket betref.

Wat atletiek betref was Warren egter self op sy dag ’n 100m en 200m atleet en het hy Boland by die SA kampioenskappe verteenwoordig in die ouderdomsgroepe o.13, o.14, o.15, o.16 en o.17.

Vir Darren se krieketprestasies kan sy pa ’n bietjie krediet kry aangesien hy Darren se eerste krieketstel gekoop het toe hy skaars kon staan.

“Ons sou altyd in die gang krieket speel, maar wat die talent betref moet Darren weereens vir sy oupas dankie sê.”

Darren se hele gesin is dol oor sport. Sy ma, Amanda, het op skool netbal vir Boland gespeel, wat volgens sy pa moontlik kon bydra tot Darren se vaardighede.

Darren se suster, Robyn (17), het as ’n leerder aan Hoërskool La Rochelle self vir Boland-Sentraal tennis gespeel.

“Robyn is een van Darren se grootste aanhangers,” grap Warren. “Sy is egter baie entoesiasties wat Darren se sport betref en maak altyd voorspellings van wat gaan gebeur.

“Sy voorspel meestal dat hyDarren gaan wen en, ek moet sê, haar voorspellings is gewoontlik redelik in die kol.”




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za