Hierdie klagtes is net ’n klomp snert
2005-07-28
HIERDIE briewe oor swak skeidsregters, blank of nie-blank, swak rugbyspelers en die swak gedrag van toeskouers elke Saterdag langs die veld, kan heel jaar aangaan, want dis een van daardie dinge wat nooit sal ophou nie. Dit gebeur tot op internasionale vlak.
Alle skeidsregters blank of nie-blank, bruin of swart, geel of groen, word deur die WP Rugby Unie aangestel om Saterdagmiddae ligawedstryde te blaas. As skeidsregters het ons geen seggenskap waar ons blaas nie.
Ek het nog nooit in my lewe gehoor van ‘n blanke skeidsregter wat sukkelende blanke klubs help om in ‘n liga te bly of te help opskuif nie - daardie bewering is ‘n klomp snert.
Ek self was betrokke by ‘n “lesing” wat aangebied was by Daljosafat Stadion tussen die klubs en die skeidsregters.
Die doel van die vergadering was om rugbyreëls te bespreek wat onduidelik is vir die klubs en om ‘n beter verstandhouding tussen skeidsregters, spelers en klubs op te bou.
Nie een keer was daar klagtes gewees van blanke of nie-blanke skeidsregters se hantering tydens blanke of anderskleurige wedstryde nie.
Sodra ek een span gaan voortrek bo ‘n ander span, hetsy klub of skole, sal ek my fluitjie neersit en by die WPRFU bedank as skeidsregter.
Oor toeskouers kan ‘n mens boeke vol skryf. Dit is mense wat elke Saterdag langs die veld is om hul spanne te ondersteun, want hulle is lief vir rugby.
‘n Skeidsregter is net so lief vir rugby. Hy wil ook elke dag verbeter, dit is hoekom hy kursusse bywoon, eksamens en toetse skryf, fiksheid en reëlbesprekings elke Maandagaand doen en elke Saterdag sy tyd opoffer om wedstryde te blaas en dan kom hy eers saans na donker by die huis aan.
Dit is al tegnies bewys dat ‘n skeidsregter ‘n gemiddelde van 852 beslissings in ‘n wedstryd maak. As hy twee foute maak, wil almal op sy kop spring en hom kruisig.
Wat van die ander 850 beslissings waar hy reg was?
Ek is blank en is ‘n skeidsregter wat my rugby baie geniet. Ek het hierdie jaar reeds ‘n paar keer in die Dal fluitjie geblaas hetsy vir Riverstones, Young Standards, Vineyards, Perseverance of wie. Let wel, anderskleurige spanne met ‘n blanke skeidsregter.
By elke wedstryd was swak gedrag betrokke hetsy van die spelers of die toeskouers.
Rugby het reëls. As ‘n speler ‘n fout maak (wat menslik is) is dit ‘n strafskop. Die skeidsregter raas en skel dan nie vir die spelers nie, maar as die skeidsregter ‘n fout maak is dit menslik en almal skel hom. Is dit regverdig of nie?
Hulle sê die skeidsregter moet blaas in die “spirit of the game”, maar hoe moet hy optree as die spelers nie speel en die toeskouers hulle nie gedra in dieselfde gees nie?
Ons moet saamstaan as speler, toeskouer en skeidsregter om die spel uit te brei.
Skeidsregter
More
News
|