’n NUWE inwoner van die Paarl (hartlik, welkom) maak die opmerking dat ons dorp maar gebrekkig is aan Kersfeesgees dié tyd van die jaar.
Met ander woorde, daar is seker te min plastiek, blinkgoed, harde musiek en ander foefies wat mense lok om te koop.
Ek is seker baie mense voel soos ek: gee ons nog minder. Pop-groepe wat “Kersliedjies” uitbasuin, opgestopte Kersvaders, blink-blink “bling” en foefies wat ’n mens in hierdie moeilike tye smeek: “Koop, koop, koop”, het weinig met Kersfees te doen.
Rondom my juig iets veel beters: die berge wat bedags skitter, ons rivier wat sy eie vreugdelied sing, die son wat blink en voëls wat kwetter.
Dis meer as genoeg om jou gees te troos en selfs vir ’n oomblik te laat vergeet van dié wat g’n Kersfees sal ervaar nie.
Rooi, groen, goud en silwer is die vals kleure van Kersfees.Victoria