Peoples jaag aan
2005-07-28
DIE eerstespan van Young Peoples Rugbyklub het Saterdag op Daljosafat Stadion skande gemaak toe hy 20-19 (7-0) teen die Universiteit Wes-Kaap verloor het.
Dit is nie soseer die verloor self wat die Peoples-toeskouers die hoenders in gemaak het nie, maar wel die manier waarop die tuisspan boedel oorgegee het.
Die maroentruie het nog van hul sege oor Paarl Rugbyklub gedroom en vergeet dat hul in ’n heel nuwe wedstryd teen ’n ander opponent speel.
Daarteenoor het UWK gespeel asof hul lewens daarvan afhang het en Peoples verras deur die gang van die wedstryd te bepaal, vas te byt en nooit bes te gee nie.
Die studente het verdien om die wedstryd te wen en Peoples-span sal homself skop omdat hy vyf ligapunte in die water gegooi het.
Die Paarliete het hul swakste wedstryd van die seisoen gespeel en die een ongedwonge fout na die ander gemaak.
Verkeerde opsies en power verdediging by tye het die tuisspan net verder in die gemors laat beland.
Die agterlyn het by 15 geleenthede balle laat val en die hele span het nooit gelyk of hulle belang stel om die wedstryd te wen nie.
Harde werk lê voor en die Tiere sal vandeesweek introspeksie moet hou as hulle hulself wil regruk.
Daarby sal daar ook dringend gekyk moet word na die span se stelskopwerk. Vier maklike pogings is verbrou insluitende een reg voor die pale.
Peoples het ook in die doodsnikke ’n strafskop voor die pale gekry, maar pleks van pale toe mik, besluit om eerder ’n tikskoppie te neem wat op niks uitgeloop het nie.
Jody Davids (vleuel), Barry Williams (skrumskakel) en Japie Josephs (stut) het Peoples se drieë gedruk.
Heelagter Thysie Pietersen en die haker, Andrew Victor, was elkeen suksesvol met een doelskop.
Peoples se tweede en derde spanne het 57-7 en 46-7 gewen. Peoples speel Saterdag op Daljosafat Stadion teen Franschhoek Rugbyklub.
More
News
|