Nuwe polisiestasie blink gepoets
2008-11-27
Lise Beyers
PAARL-OOS se splinternuwe polisiestasie is nou amptelik operasioneel. Onlangs het personeellede van die vervalle ou polisiestasie in Klein Drakensteinweg met ’n huppel in hul stap verhuis na die nuwe perseel op die hoek van Meaker- en Van der Stelstraat langs Allandale gevangenis. Hierdie stasie staan in kontras met die vervalle ou gebou wat tot onlangs ’n groot gemeenskap moes dien. Die nuwe stasie is gebou teen ’n koste van R29 miljoen, en ten spyte van talle vertragings weens die lang, nat winter, is die gebou op skedule voltooi. Die gebou is ’n enkelverdieping-siersteen- gebou met ’n oppervlakte van 3900 vk meter en is ontwerp om ’n doeltreffende, aangename werksomgewing te skep vir SAPS personeel. Dit bied ook ’n vriendelike en gemaklike omgewing vir die publiek. Daar is nou meer as genoeg plek vir die 163 personeellede van die Paarl-Oos polisiediens om in gemak hul pligte uit te voer. Tot onlangs is die speurders noodgedwonge van die ou polisiestasie geskei, weens onvoldoende spasie, maar nou het hulle hier hul eie kantore op die perseel. Die nuwe stasie is meer sentraal geleë vir inwoners van Paarl-Oos, en is ook nader aan probleemgebiede soos Chicago en Fairyland. In die algeheel is die fasiliteite verbeter, met baie meer kantore, kombuisgeriewe, ’n ontspanningsvertrek, raadsale, meer selle, asook genoegsame parkering vir personeellede en die publiek. Die trotse stasiebevelvoerder, snr/supt Enos Maseko, het gesê dat hy reeds kan sien dat die nuwe gebou ’n positiewe effek op personeellede het. “Almal is sommer lus om nou werk toe te kom en is trots op hul nuwe tuiste. “Dit is baie meer gerieflik en sal beslis bydra tot die verbetering van dienslewering. Ons kan nou met trots sê dat ons die beste polisiestasie in die gebied het.” Tans staan die ou polisiegebou in Klein Drakensteinweg, wat aan die munisipaliteit behoort, leeg. Dit is onseker wat hiermee gaan gebeur. Met die verskuiwing het die polisie in PaarlOos nou nuwe telefoonnommers: Aanklagkantoor - 021-877-5908/9; Skakelbord - 021-877-5900; Speurders - 021-877-5913 * The brand new Paarl Police Station is now operational.
More
News
|