Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Rieldans op Paarlberg

Rieldans op Paarlberg
 
2008-11-27


JEUK jou voete gedurig en hou jy daarvan om te bokspring of om vlerk te sleep en gee jy ook nie om om dan en wan soos ’n pronkerige bobbejaanmannetjie al wat ’n perkaat is, uit te haal nie?

Indien die antwoord ja is, dan beskik jy heel moontlik oor al die eienskappe wat van jou ’n uithaler-rieldanser behoort te maak.

Die ATKV bied ’n opwindende Rieldansfinaal op 6 Desember om 19:00 by die Taalmonument in die Paarl aan en te oordeel aan die rieldansgroepe se entoesiasme gaan die aarde kreun en Paarlberg antwoord gee soos die feniks uit sy slaap verrys.

Vir die afgelope drie jaar is ’n ou vergete kultuurpraktyk naamlik die rieldans, danksy die ingryping van die ATKV, stilweg besig om te herleef.

Die rieldans verrys oral op plattelandse dorpies soos ou bestaande groepe weer lewe kry en talle nuwes ontstaan om deel van die kompetisie, die enigste in sy soort in Suid­Afrika, te wees.

Twee streeksuitdunne het vanjaar plaasgevind en op 9 Augustus het elf spanne mekaar die stryd op Garies in Namakwaland aangesê.

Vrydag 26 September het die tweede streekskompetisie op Laingsburg in die Karoo plaasgevind. Sestien groepe het hier mekaar die stryd aangesê om onder die finaliste te wees wat in die finaal op 6 Desember teen die heersende kampioen, Vredendal, te staan kom.

Beide kompetisies was besonder straf en uitbeeldings van die diereryk en werksituasies was volop. Daar is skaap geskeer, askoek geslaan, perd gery, meerkatjies het parmantig gepronk, ’n wulpse volstruiswyfie het vrolik rondgetrippel en die ou gunsteling, die bobbejaan, het weer allerlei streke uitgehaal.

Toegang vir die Rieldansfinaal is R30 (en donasies). Die hekke is reeds vanaf 17:00 oop.

Vir meer besonderhede kan Elias Nel gekontak word by 021-949-9063 of 083-347-6068.




More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za