Keurders bekyk landlopers vir oulaas
2005-07-28
ATLETE wat oefen vir vanjaar se SA Landloopkampioenskappe kry Saterdag ’n laaste kans om vir die Boland Landloopkampioenskappe te kwalifiseer.
Die laaste proewe van die seisoen, wat gesamentlik deur Boland Atletiek en Boland Ussasa aangebied word, vind die naweek op die skougronde op Riebeek-Wes plaas.
Die keurders sal Saterdag die atlete fyn dophou aangesien daar reeds na afloop van dié byeenkoms ’n skimspan saamgestel sal word vir SA-Kampioenskappe.
Die finale span sal egter eers aangekondig word ná die Boland Landloopkampioenskappe wat op 13 Augustus by die Allandale Gevangenis gehou word.
Sowat 1500 atlete word verwag by Saterdag se laaste proewe. Die keurders het reeds aangedui dat hulle veral gaan fokus op sterk verteenwoordiging in die 15, 17, 19 en senior ouderdomsgroepe.
Volgens Richard Stander, Hoof Uitvoerende Beampte van Boland Atletiek, sal daar ook spesifiek gekyk word na belowende atlete wat by wyse van die Sentrum van Uitnemendheid voorberei kan word vir die 2008 en 2012 Olimpiese Speles.
Hy het bygevoeg dat atlete en afrigters ook moet kennis neem dat vanjaar se Boland Landloopkampioenskappe een week later plaasvind as wat aanvanklik in die Boland Atletiek Handleiding gepubliseer is.
Die SA Kampioenskappe word op 17 September op die Tempe Weermagbasis in Bloemfontein gehou.
Saterdag se proewe begin om 10:30 met die senior wedlope van 14:50. Navrae: Richard 072-347-8964.
More
News
|