Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


'n Rykdom in kleur en blom

'n Rykdom in kleur en blom
 
2008-11-27


SOMMIGE mense droom van groot rykdom, maar op Wellington is James Maats se groot droom om eendag ’n blou daglelie te kweek.

“Ek hoop ek kry dit nog reg voordat ek eendag aftree. Ai, my hart sal sommer omslaan van lekkerte,” vertel hy.

James Maats werk al 15 jaar met daglelies, en het byna eiehandig ’n moerasagtige veld langs die Leeurivier aan die onderkant van Kerkstraat ingebreek en omskep in Daylily Park. Vandag is Kerkstraat 105 amper ’n hektaar groot.

Die dagleliepark behoort aan Chris Smit, en het ontstaan uit ’n toevallige stokperdjie.

Chris is ’n direkteur van een van die dorp se wynmaatskappye, en het in sy vryetyd daglelies begin kweek, invoer en selfs nuwe kleure begin kweek.

Kort voor lank was die stokperdjie te groot om alleen te behartig, en dit is waar hy vir James Maats genader het om vir hom te kom help.

Hulle eerste suksesvolle kruising - ’n miniatuur donkerpienk lelie - is ook “James” genoem.

Chris vertel dat daglelies oorspronklik uit die Ooste gekom het, maar dit is die Amerikaners wat die baanbrekers was om van die oorspronklike wilde variëteit so ’n groot verskeidenheid kleure en blomgroottes te ontwikkel.

“Daar in Amerika het hulle daglelieplase soos ons wynplase het, en vandag skat ek is daar derduisende geregistreerde variëteite.”

Sy belangstelling in daglelies is geprikkel toe hy eendag ’n oranje blom tussen die geel blomme in sy tuin opmerk. Dit was in 2000, en vandag het hy 280 geregistreerde variëteite in sy agtertuin. Die meeste van sy moederplante is oor die internet van Amerika bestel.

Nuwe variëteite word deur kruis-bestui­wing ontwikkel. Na ’n suksesvolle kruising, word die plant vegetatief vermeerder. Dit gaan alles oor genetika, en in Amerika is die teel van nuwe blomkleure en -tipes tot ’n wetenskap verfyn.

Elke seisoen word stuifmeel versigtig versamel en op stampers van uitgesoekte blomme oorgedra, en dan is dit die lang gewag vir die saadknoppe om te vorm.

Die saadknop lyk bietjie soos dié van ’n kappertjie, net groter. Ryp saad is omtrent so groot soos die kop van ’n vuurhoutjie.

“Dit is baie moeilik om die kleur te voorspel. Dit is die groot onbekende, en wat die stokperdjie natuurlik so interessant maak, dit is amper soos dobbel.

“Jy kan stuifmeel vir die volgende paar maande opsit en aan die einde van die dag met 5000 plantjies sit, en as jy gelukkig is, het jy twee plante wat belowend mag lyk.”

Behalwe vir keuring, word die daglelies ook opgedeel volgends die tipe en grootte van sy blom: miniatuur, “spider”, enkel en dubbel.

Alle blomme is ook nie gelyk nie.

Die meeste bolle sal ’n mens onder R50 van ’n kwekery kan koop, waar versamelaars kan tot R1 000 en meer betaal vir ’n buitengewone kleur of blom-vorm.

Dit is die verskil tussen mense wat blom­me soek vir ’n mooi vertoning in ’n tuin, en dié wat uitsluitlik daarop uit is om hulle versamelings probeer uitbou.

Tuiniers en belangstellendes wat graag hierdie private tuin wil sien, het die geleentheid om dit komende Saterdag te besoek tussen 08:00 en 13:00. Daar sal ook ’n beperkte hoeveelheid plante te koop wees.




More News
  • Natural burials arrive in South Africa
  • Lofprysing Oppiberg
  • Bonsai Kai vergader
  • Benefit concert
  • Have a lazy day braai
  • Staan op in moeilike tye
  • Boeresport by fondsinsamelingsdag
  • Local schools shine in debate
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za