Liggiesfees in Amandelstraat
2008-11-27
VANJAAR sprankel die Weltevrede-buurt op Wellington behoorlik met ’n sprokieswęreld van Kersliggies. Vir die derde agtereenvolgende jaar het plaaslike inwoner, Brian Fortuin, dit op homself geneem om die gemeenskap te bekoor met sy persoonlike liggiesfees. Sedert verlede Vrydagaand is die Fortuin-woning te Amandelstraat 14 so verlig, dat die liggies vir kilometers ver gesien kan word. Vanjaar spog Fortuin met oor die 64 000 liggies waarmee sy woning en tuin versier is en vanjaar se tema is Kersfees in Hawaii. Hierdie reuse-taak van versiering neem vir die Fortuin-familie en vriende bykans sewe weke om op te rig en dan weer vyf dae om af te haal. Tydens Vrydagaand se aanskakelingseremonie, het sowat 4000 mense op Amandelstraat toegesak om hierdie asemrowende aangesig te beleef. Fortuin vertel dat hy deur die jare al meer as R50 000 aan liggies spandeer het en nog wil hy bou aan sy wonderwęreld. “Ek het reeds vier jaar gelede besluit om uit te reik na die gemeenskap om vir hulle tydens dié tyd van die jaar ’n lig van hoop te gee. “So het ek elke jaar ’n ander Kersfeestema geskep en gebou daarop. “Mense kom elke aand van heinde en ver om na die liggies te kyk, en dit is asof hulle vrede hier vind. “Daar is nooit ’n geraas en gewoel soos by ander liggiesfeeste nie, maar ’n rustigheid. En nog nooit is ’n enkele liggie of versiering uit my tuin gesteel of beskadig nie.” Fortuin plaas insamel-blikkies in die tuin vir donasies, wat gebruik word om vir minderbevoorregte kinders geskenkies vir Kersfees te koop. “Baie kinders hier het nog nooit ’n behoorlike Kersfees beleef nie, dus wil ek iets teruggee aan die gemeenskap.” Fortuin se liggies sal tot 5 Januarie brand. * A Christmas wonderland can been seen in the heart of Weltevrede.
More
News
|