Cooper ry die groot golf
2008-11-27
Jaco van Wyk
ELKE rugbyspan kan doen met ’n bietjie grofgeskut van die Hoër Landbouskool Boland - ’n kalant wat weet hoe om onder sy opponente in te klim wanneer ander spelers nie wil nie. Die Blou Bulle het onlangs nog die dienste van Landbouskool se liefling- seun, Derick Hougaard, gehad, wat tans vir die Engelse klubspan Leicester Tigers speel. Die Natalse Haaie het die stewige Deon Carstens, die Cheetahs en die Westelike Provinsie het vir Willem de Waal gehad, terwyl Stefan Basson die man is wat vir die klubspan Rovigo in Italië die telbord aan die rol hou. In die Arabiese Golf is daar ook ’n oud- leerder van Landbouskool wat aan stuur van sake is. Stephen Cooper, wat afkomstig is van Wellington, is een van drie Suid-Afrika- ners wat uitdraf vir die nasionale sewesspan van die Golf. Cooper is boonop ook die kaptein van die span en dikwels die man na wie sy mede-spelers draai wanneer die spel effens taai raak. Cooper het in 1997 gematrikuleer aan die Hoër Landbouskool Boland en het in een wedstryd vir sy skool se eerste span, op losskakel, diens gedoen. Volgens Cooper het hy altyd geweet dat hy eendag rugby wou speel, ondanks beperkte geleenthede in sy geboorteland. “Rugby was beslis ’n prioriteit in my tienerjare en dit was ’n baie groot ideaal van my om eendag rugby te speel. “Ek het maar soos enige ander rugbyspeler gedroom daarvan om op provinsiale vlak te speel, maar na my eerste jaar as student het ek besef dat die geleenthede maar skaars is en het ek stadig maar seker my ideale laat vaar.” Kort nadat Cooper ’n Hoër Diploma in Sportbestuur en -Afrigting by die Tygerberg Kollege voltooi het, is hy aangestel as ’n fiksheidsinstrukteur vir die Jumeirah groep in Dubai. “Dit was amper agt jaar gelede en tans werk ek as ’n kategoriebestuurder in Nakheel Retailcorp se sportdivisie.” Die 29-jarige Cooper is ongetroud en volgens hom is hy op die oomblik net met sy werk en sy rugby “getroud”. Dit is juis om rugby-redes dat Cooper en sy span onlangs ’n besoek kom aflê het aan afrigter Paul Treu en sy sewes- Bokke. Die Arabiese Golf neem dié naweek (28 tot 29 November) deel aan die Internasionale Rugbyraad se sewestoernooi in Dubai. Dus het hulle saam met die Suid-Afrikaanse span op Stellenbosch kom oefen om ’n paar van die Blitsbokke se fyner kunsies wys te raak voor hul vertrek. Interessant genoeg gaan Cooper se span tydens dié toernooi in dieselfde groep meeding as Suid-Afrika. “Ons het verskriklik baie geleer van alle aspekte van die spel,” sê Cooper oor hul besoek aan Suid-Afrika. “Wat my werklik beïndruk het, is hoe ingestel die span is om vir mekaar te speel. Paul Treu maak dit baie duidelik dat daar nie plek is vir individuele agendas nie. Spelers moet bereid wees om vir mekaar te werk.” Cooper en sy span beoog om in Januarie weer aan te sluit by die Blitsbokke vir nog ’n week-lange oefening op Stellenbosch. “Ek hoop werklik dat dit ’n gereelde instelling sal raak, want ek glo dat beide spanne voordeel daaruit kan trek.” Cooper is van mening dat beide sewes en vyftienman-rugby besig is om te groei in die Arabiese Golf as gevolg van die toename in spelers wat hulself daar vestig. “Tans is daar nege klubs wat hier speel van regoor die Golf. Die sewesspan is egter definitief die fokuspunt as gevolg van volgende jaar se wêreldbeker. “Die vyftienman-kode behoort ook te verbeter as gevolg van die IRB Vyf-nasie- kompetisie wat hierdie jaar geloods is in die Asië-streek. Die grootste verskil is dat die Unie 100% amateur is en nie een van die spelers ’n sent betaal word nie.” Die sewes-groep van die Arabiese Golf bestaan uit spelers vanaf Suid- Afrika, Nieu-Seeland, Australië, Engeland en Skotland. Die jongste speler is negentien jaar oud en die oudste 34, en hulle wissel van studente tot prokureurs. Wat die span se doelwitte betref vir die toernooi in Dubai, sê Cooper dat hulle graag wil toepas waaraan hulle die afgelope ses maande gewerk het. “Wat voormalige prestasies aanbetref was die Arabiese Golf al relatief kompeterend in die onlangse Singapoer sewestoernooi waar ons sewende uit negentien spanne geëindig het,” sê Cooper. “In 2006 het ons ook die Kenya-span met 10-7 geklop in die Dubai seweskompetisie.” Dit was nooit Cooper se plan om so lank weg te bly van die huis af nie. “My plan was net vir twee jaar, maar dinge het heeltemal anders uitgewerk en nou is ek steeds hier. Maar ek wil beslis weer eendag terug huis toe kom.”
More
News
|