Wêreldroem vir perdestoet
2008-12-04
Hennie Basson
DIE bekende Paarlse Hackney-teler van weleer, wyle Koos de Villiers, het sedert ongeveer ’n halfeeu gelede sy perdestoet op die plaas Sandwyk, Suider- Paarl, tot van die beste in die land opgebou. Waarskynlik het hy nooit kon droom dat ’n perd wat in later jare op hierdie plaas afgerig sou word, dekades later wêreldroem sou behaal nie. Dit het wel onlangs gebeur, toe die hings, Shanie Strikeler, tot wêreldkampioen vir dié ras gekroon is. Hy is in die Shanie-Hackneystoet by Durbanville deur Danie Alberts geteel, is lank op hierdie wynplaas afgerig en is vier maande gelede vanaf hier na Nederland uitgevoer. Hierdie reuse-triomf en deurbraak vir Suid-Afrikaans geteelde Hackneys het tydens ’n internasionale Hackneyskou in Essex, Engeland, gebeur. Peter Vugts van Vught in Nederland is die nuwe eienaar van dié perd. Dit is danksy Alberts en sy vrou, Alta, dat Hackney-roem voortgesit word op hierdie Paarlse plaas, waarheen van die beste oorsese bloedlyne oor baie jare deur Koos en sy seun, wyle Paul de Villiers, in hul LantanaHackneystoet veredel is. Ná die heengaan van laasgenoemde, het Alberts die spreekwoordelike leisels op Sandwyk kom oorneem en ook perde uit sy Shanie-stoet vanaf Durbanville hierheen gebring. Die twee stoeterye word nou gesamentlik deur die Albertse bedryf en bestaan uit meer as twintig Hackneys. Volgens Alberts, wat die vorige voorsitter van die Hackneystelersgenootskap van SA was, is daar ’n groot vraag in die buiteland vir perde van nie net hierdie stoet nie, maar ook vir perde uit ander stoeterye in die res van die land. “Weens die gehalte van ons perde en inteling wat in lande soos Engeland, Nederland en die Verenigde State geskied, is voornemende kopers uit die buiteland maar al te gretig om van ons teelmateriaal te bekom,” sê Alberts. Sedert verlede jaar is reeds nege Hackneys deur sewe plaaslike telers uitgevoer. Een van die eerste twee Suid-Afrikaanse Hackneys wat ooit deur amptelike kanale op oorsese bodem beland het, was dan ook ’n hings wat deur Alberts geteel is en verlede jaar deur sy latere eienaar, Hennie du Preez van Rawsonville, uitgevoer is, naamlik Shanie Rebel. Om die hart van hierdie Paarlse teler en afrigter verder te laat bons, is Rebel vierde geplaas in die spesifieke item in Essex waar Strikeler as grootkampioen aangewys is. Tien van die beste Hackneys ter wêreld het hier om die hoogste louere in die enkeltuig meegeding. Alberts sê ofskoon wyle Koos en sy seun Paul oor ingevoerde hingste soos Suddie Metalic, Suddie Minstrel en Cambridge Magic Light beskik het en hulle destyds die nasionale kampioenskappe vir dié ras oorheers het, is die prestasie van die sewe- jaar-oue Strikeler absoluut buitengewoon. Hy het hierdie perd, wat oor uiters mooi voor- en agteraksie beskik, geteel uit die hings Breda Outlaw en die merrie Shanie Melanie. Outlaw was weer geteel deur Willie du Toit van Winburg, wat in die Agter-Paarl grootgeword het op die plaas Brandenburg wat sestig jaar gelede nog vir sy muilspanne bekend was. Die Hackney, wat oorspronklik in Engeland geteel is, was vóór die koms van die motor uiters gewild op Bolandse plase, en in die sentrale dele van die land. Weens hul spoed en elegansie as tuigperde is hul nog steeds as die Rolls Royces van die skoubaan bekend.
More
News
|