Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


So, wie gaan vanjaar wen?

So, wie gaan vanjaar wen?
 
2005-07-28


DIE Faurestraat Stadion in die Paarl sal Saterdag weer ’n drukpot van emosies en senuwees wees wanneer die jaarlikse interskolewedstryd tussen Paarl Gimnasium en Boishaai afskop.

Albei skole se eerste spanne het Saterdag gewys dat hulle reg is vir die groot kragmeting toe Gim vir Bishops (46-0) en Boishaai vir SACS (29-0) Saterdag oortuigend in die Paarl geklop het.

Die Gimmies is tans die eerste gekeurde skool in die Wes-Kaap en het nog geen nederlaag in dié provinsie gely nie.

Slegs Grey Kollege kon nog vanjaar vir Gimnasium op hul tuisveld in Bloemfontein pakgee.

Boishaai was vanjaar al drie keer aan die verkeerde kant van die telbord, met nederlae teen Bishops, Nelspruit en Pretoria Boys’ High.

Wat vooraf in die jaar gebeur het, sal egter Saterdag wanneer die spanne op die veld draf, nie ter sprake wees nie.

Gimnasium het die seisoen al telkens gewys met watter krag sy pak voorspelers teenstanders op hul tande kan laat kners.

Hier is dit veral die voorry, Carlo Prinsloo, Mathys Nieuwoudt en Dario Chistolini, wat die pap dik sal aanmaak.

Boishaai het egter vanjaar vier spelers in sy pak wat al sedert verlede seisoen saamspeel.

Onder die ervarenes tel die losvoorspelers, Robert Schaaf en Zandré Jordaan, en die Gimmies sal beslis dié twee se streke om vaste-los met arendsoë moet dophou.

Die flank Andreas Slabber wat ook verlede jaar vir Boishaai in aksie was, sou ook gespeel het, maar ’n besering wat hy Saterdag teen SACS opgedoen het, het ’n stokkie daarvoor gesteek.

Slabber word deur Arno Bredenhann vervang.

Albei spanne spog met heelwat spoed in die agterlyn en daar kan verwag word dat dit ’n baie gelykopstryd kan wees.

Die span wat dus die druk die beste hanteer en sy kanse gebruik, sal die een wees wat met die groot glimlag huis toe gaan.

Gimmie mis uit

In ’n soet-suur poets van die noodlot, is Gimnasium se losskakel, André Smith, nie bevoorreg genoeg om in die interskole te speel nie.

Smith wat vanjaar vir die WP Cravenweek-span uitgedraf het, is die enigste speler van beide Gimnasium en HJS wat in die SA
Skolespan opgeneem is.

Dié span speel egter Saterdag teen die SA Akademie-span in ’n voorwedstryd vir die eerste Drie Nasies toets tussen die Springbokke en Australië op Loftus.

Smith beaam dat hoewel sy kop by die Loftus-wedstryd sal wees, sy hart met ’n punt na die Paarl sal trek.

“’n Man het maar gemengde gevoelens, dit is nou geluk by die ongeluk. Maar gelukkig het ek darem verlede jaar my jaar gehad waar ek eerste span kon speel,” het Smith Saterdag gesê terwyl hy sy span langs die kantlyn ondersteun het.

“Maar as jy moet kies tussen jou land en jou skool, weeg jou land ’n bietjie swaarder op as jou skool. So ek vat maar dinge soos dit kom en maak die beste daarvan,” het hy met ’n laggie gesê.

Heelwat provinsies het al na die uitblink-losskakel begin vry, maar hy het nog nie besluit waar hy volgende jaar sy rugbyloopbaan gaan voortsit nie.

“Ek het nog nêrens geteken nie. Ek en my pa het besluit om na almal te luister wat met my wil praat en dan sal ons rustig sit en ’n besluit neem,” sê die boorling van Somerset-Wes wat ook verlede jaar sesde was by die SA Gimnastiekkampioenskappe en drie medaljes verower het.

En wie gaan Saterdag wen?

“Dis mos nie onderhandelbaar nie, ons natuurlik. Dit gaan nie maklik wees nie, maar ek is vol vertroue dat ons sal wen en staan 100% agter my span,” het Smith gesê.

Die hoofwedstryd tussen die twee o.19A-spanne skop Saterdag om 16:00 op Faurestraat Stadion af.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za