Frats-golf eis man van Wellington
2008-12-04
TWEE bekende sakemanne van Wellington het verlede week ’n noue ontkoming gehad, toe hul in onstuimige water beland het aan die Weskus. ’n Derde man was egter nie so gelukkig nie. Die voorval het verlede Dinsdagmiddag plaasgevind by Tietiesbaai. Josh Malherbe, Arnold Slabber en sy tuinier en vriend, Japan Botha (50), het salig gesit en hengel. ’n Bewoë Slabber vertel dat hy hierdie deel van die kus baie goed ken en alles het soos gewoonweg goed verloop. “Ek en Malherbe het gehengel en Japan het rustig by ons gesit en gesels. Hy het dikwels saam met ons kom visvang, maar het nie self gehengel nie. “Die rots waarop ons gesit het, is hoog en die water was heel kalm. “Byna van nęrens af het ’n frats-golf sy kop uit die see gelig en vir ons aldrie van die rots afgespoel. Toe ek die water tref, het ek aan die rots vasgeklou, en Josh is kant toe gespoel. “Japan was egter in die moeilikheid en Josh het dadelik weer die waters getakel om vir hom te help.Ek het daarin geslaag om na veiligheid te kom, en ek het die vishoek van een van die stokke afgebreek en die lyn na Josh gegooi om vir hulle te help, maar hy kon dit nie lekker beetkry nie. “Die frats-golf het die water baie onstuimig gelaat en Josh het hard probeer om vir Japan na veiligheid te bring, maar uiteindelik was hy nie suksesvol nie.” Malherbe is met ernstige beserings na Vredenburg Private Hospitaal geneem. Polisieduikers en die NSRI het ’n soektog geloods na Botha se oorskot, maar kon dit tot dusver nie opspoor nie. Botha was ’n alleenloper wat oorspronklik vanaf die Oos-Kaap was, en vir ’n geruime tyd al vir Slabber gewerk het: “Hy was my geselsmaat en ons is almal stukkend oor die voorval.”
More
News
|