Kursus in wyntoerisme
2005-07-28
DIE Bergzicht Opleidingsentrum, in samewerking met BEES, bied geleentheid aan tien werklose mense van Paarl, Wellington en omgewing om ’n kursus gratis by te woon.
Die kursus, wat by die Koinonia-sentrum in die Paarl aangebied sal word, sal voorheen benadeeldes toerus met vaardighede vir ’n loopbaan in die gasvryheids- en toerismebedryf en veral in wyntoerisme.
Die kursus duur nege weke en sal studente in staat stel om op wynplase, in proe-lokale en restaurante te werk.
Geen vorige werkservaring is nodig nie, maar mense wat hulself reeds as vindingryk bewys het of in hulle gemeenskappe gewerk het, sal voorkeur kry.
Verdere vereistes is ’n CV, matriek (bewys van kwalifikasie), tussen 20 en 26 jaar (ID-dokument) en moet goed kan kommunikeer in Afrikaans en/of Engels. ’n Derde Europese taal sal voordelig wees. Aansoekers moet in staat wees om die kursus van nege weke by te woon, asook twee weke prakties. Aansoekers moet hul eie vervoer reël.
Registrasiegeld van R50 is betaalbaar.
Belangstellendes kan Maandag om 09:30 by Koinonia in Lady Greystraat met die nodige dokumentasie aanmeld vir ’n onderhoud. Kontak Annatjie Ludik by 883-3525 vir navrae.
Die kursus begin op 15 Augustus. Suksesvolle kursusgangers sal bygestaan word om ’n werk te vind.
More
News
|