Jongmense hier opgelei
2008-12-04
AS gevolg van die stygende werkloosheidsyfer wat matrikulante ondervind, het ’n paar Paarlse kerke ’n data-vasleggingsprojek geloods om werk te skep. Die gemeentes wat tot dusver betrokke is, is Bethel Congregational, St Stephen’s, Annunciation en Zions VGK. Hulle hoop om ten minste 25 werksgeleenthede oor die volgende vyf jaar te skep met die hulp van borge. ’n Span van vyf jong vroue is in September opgelei in basiese rekenaarvaardighede en werk sedert Oktober hard in hul nuwe poste. Die projek is voorlopig in Sanddriftstraat gevestig, nadat die Athlone Instituut Trust ingestem het om rekenaars en kantore by die ou Athlone Opleidingskollege (waar die Frank Pietersen Musieksentrum geleë is) beskikbaar te stel. Die dryfveer agter die projek is die geskiedkundige, professor George Fredericks (’n lidmaat van die Bethel-gemeente), wat oorloop van entoesiasme om ’n verskil in jongmense se lewens te maak. “Ons jongmense is baie gretig om werk te kry en vaardighede aan te leer,” sę Fredericks. “Ons wil egter nié net sorg vir rekenaarvaardigheid nie, maar ook verseker dat hulle werksetiek aanleer en ondervinding opdoen.” Die kerkadministrasie-dataprogram word reeds benut om die rekords van St Stephen vas te lę. Bethel gebruik van die gemeente se werklose jongmense vir ’n sensusopname onder gemeentelede, ten einde hul rekords te rekenariseer. “Dit vereis dat ons van deur tot deur moet gaan om data te versamel, wat lei tot verdere werksgeleenthede oor die volgende paar weke.” Een van die gelukkiges by die kantore in Sanddriftstraat is Carushna Davey van St Stephen, wat werkloos was sedert sy in 2007 haar matriekeksamens voltooi het. “Benewens die aanleer van rekenaarprogramme is ons opgelei in die spesiale program wat die finansiële bydraes, rekords, en argiewe van enige kerk kan vaslę, wat dit baie maklik maak vir gemeentelede om akkurate informasie te verkry vir dokumente soos doopsertifikate en trousertifikate asook stambome. “Ek voel dat ek nou baie beter bekwaam is - en met meer selfvertroue sal kan aansoek doen vir ’n ander pos.” Crystal Abrahams van Bethel-gemeente sę: “Ek was oorstelp van vreugde toe ek hierdie geleentheid gekry het. Wanneer ek vir werk aansoek doen wil werknemers eers weet oor watter ondervinding ’n mens beskik. Ons het nou ’n plek waar ons ondervinding kan opdoen. “Die kerke het met hierdie projek die ideale geleentheid geskep vir ons jongmense om voorbereiding te kry vir die toekoms.” Die sekretaris van die Paarl Gesamentlike Kerkekomitee, Quinton Jacobs van St Stephen, sę: “Dit het ’n ommeswaai in vyf mense se lewens gemaak. “Die groot uitdaging is nou om die projek finansieel haalbaar te maak. “Ons hoop dat die ander kerke wat lid is van die Kerkekomitee (Ascension, Immanuel en Holy Trininty), betrokke sal raak.” Vir navrae, skakel hom by 072-324-5072.
More
News
|