Ongeluk eis rugbyspeler
2008-12-04
Jaco van Wyk
’N VOORMALIGE speler van die Boland Kavaliers, Claude Arendse (24), het Saterdag in ’n motorongeluk gesterf vier kilometer buite Malmesbury. Die oud-leerder van Charleston Hill Sekondêr, wat vanjaar vir die OP Olifante op senter uitgedraf het en aanstaande seisoen gekontrakteer is by die SWD Arende, het vermoedelik beheer oor sy voertuig verloor voordat hy teen ’n betonbrug gebots het. Volgens ’n woordvoerder van die Malmesbury polisie het die ongeluk omstreeks 02:10 Saterdagoggend gebeur op die Malmesbury/Paarl-pad. “Die motor het die pad verlaat en teen ’n klein betonbruggie langs die pad vasgery. Dit het uiteindelik aan die anderkant van die pad tot stilstand gekom. “Ons vermoed dat Arendse nie op slag dood is nie, maar op die toneel oorlede is voordat die ambulans sy verskyning gemaak het.” Een van Arendse se spanmaats by SWD, Ambrose Barends, was saam met Arendse in die voertuig. Hy is opgeneem in die Milnerton Hospitaal. “Ons gaan met ’n swaar gemoed die Kerstyd in - ons gaan vir Claude met sy vriendelike, goedhartige geaardheid verskriklik mis,” het sy bedroefde pa, Theo, gesê. Die voormalige speler van Roses United Rugbyklub laat sy ouers, Theo en Johanna, broers Donavan (17) en Medwin (28) en sy vriendin, Lee-zaan Arendse, agter. Lee-zaan verwag eersdaags hul baba. Die huisdiens is Sondag te Polonaisestraat 49, Groenheuwel (10:30), met die diens om 11:30 in die Bet-el VGK.
More
News
|